Nuus 08:00
BULLETIN 20 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende polisieminister sê die werk van die Madlanga-kommissie help met polisie-aanspreeklikheid
# Die DA is bekommerd oor drie-duisend operasies wat by die Charlotte Maxeke-hospitaal gekanselleer is
# En sokker: Arsenal beëindig ‘n 22-jaar lange wag vir die Premierliga-titel
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die Madlanga-ondersoekkommissie se werk ondersteun pogings om aanspreeklikheid in polisiëring te versterk. Die kommissie ondersoek misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel. Dit volg na bewerings deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, in Julie 2025. Cachalia sê die meeste van die onlangse inhegtenisnemings en strafregtelike klagtes teen senior polisiebeamptes spruit voort uit ondersoeke wat voor die Madlanga-kommissie begin het:
# Die MK-party se leier, Jacob Zuma, het Nhlamulo Ndlela se lidmaatskap opgeskort hangende die uitslag van ‘n interne ondersoek. Hy is as die party se nasionale woordvoerder verwyder na beskuldigings dat hy die MK-party verkeerd voorgestel het by die bekendstelling van hulle nuwe Leierskap-instituut. Ndlela word beskuldig van wangedrag, dat hy tweespalt saai en die party in onguns bring. Hy is verbied om die MK-party in enige hoedanigheid te verteenwoordig, en moet alle party-eiendom soos skootrekenaars, dokumente, toegang en lidmaatskapskaarte teruggee.
# Die DA in Gauteng sê meer as drie-duisend operasies is sedert Januarie verlede jaar by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg gekanselleer. Volgens die party is een uit elke vier geskeduleerde operasies afgelas, wat pasiënte met lang vertragings en groeiende agterstande laat. Jack Bloom van die DA sê Ortopediese dienste het die grootste agterstand, met meer as een-duisend pasiënte wat tot 18 maande wag, terwyl byna 500 kinders ook steeds op die waglys is:
# Minstens 19 mense, waaronder vier vroue en drie kinders, is dood in Israelse lugaanvalle in Libanon. Dit volg minder as ʼn week nadat ʼn skietstilstand-ooreenkoms wat Amerika tussen Israel en Libanon bewerkstellig het, met 45 dae verleng is. Israel se weermag sê hy het die afgelope twee dae meer as 25 persele van die Iran-ondersteunde Shia-Islamitiese groep, Hezbollah, se infrastruktuur in die suide van Libanon geteiken. Meer as drie-duisend mense is in Libanon dood sedert gevegte tussen Israel en Hezbollah op twee Maart hervat het.
# Sokker: Arsenal is vir die eerste keer in 22 jaar as Premierliga-kampioen gekroon. Die Gunners se lang wag vir die titel is beëindig toe Manchester City gisteraand met een elk gelykop gespeel het teen Bournemouth, wat hulle twee punte agter die span van Mike Arteta gelaat het. Arsenal se sukses volg nadat hulle vir drie agtereenvolgende seisoene tweede geëindig het. Arteta word hiermee die eerste gewese Premierliga-speler wat as afrigter die trofee kan lig. Die oorhandiging van die trofee vind Sondag plaas ná hul laaste wedstryd van die seisoen teen Crystal Palace.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-614-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-461-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….