Nuus 07:00
BULLETIN 20 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie sê die Patriotic Alliance sal nie stem om Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging te plaas nie
# Solidariteit sê die mynbedryf het gekrimp onder swart ekonomiese bemagtiging
# En Donald Trump sê hy was ‘n uur weg van ‘n aanval op Iran
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die Patriotic Alliance sal nie stem om president Cyril Ramaphosa in ‘n staat van beskuldiging te plaas nie. Die Parlement het ʼn ampsklagkomitee van 31 lede aangestel om te bepaal of hy sy ampseed oortree het. Dit hou verband met die inbraak in 2020 by sy plaas, Phala Phala, in Limpopo waar buitelandse valuta gesteel is. McKenzie sê Ramaphosa neem nie die Artikel 89-paneel se verslag op hersiening om die Parlement te vermy nie:
# Die vakbond Solidariteit het president Cyril Ramaphosa se verdediging van swart ekonomiese bemagtiging in die mynbousektor gekritiseer. Die vakbond se nuwe verslag dui daarop dat die mynbousektor sedert 1994 aansienlik gekrimp het, met werkverliese en verminderde produksie. Hy voer aan die huidige transformasiebeleide beperk groei en belegging. Theuns du Buisson van Solidariteit voer aan die voordele van swart ekonomiese bemagtiging het grootliks na ‘n klein elite groepie gegaan, terwyl gewone werkers beperkte voordele gesien het:
# ActionSA sê hy is bekommerd oor Eskom se hernude dreigement om elektrisiteit na dele van Johannesburg af te sny oor City Power se skuld van 5,2-miljard-rand. Die kragverskaffer sê dis omdat City Power nie die bepalings van ʼn skikkingsooreenkoms oor uitstaande skuld nakom of sy huidige rekening betaal nie. ActionSA sê die metro moet dringend ʼn aanneemlike en deursigtige betalingsplan aan Eskom voorlê, aan inwoners rekenskap gee oor hoe die skuld so toegeneem het, en gevolgebestuur instel teen amptenare wat skuldig is aan finansiële wanbestuur.
# President Donald Trump van Amerika sê hy het die aanval op Iran ʼn uur voor die tyd op versoek van die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi-Arabië en Katar uitgestel. Bemiddelaars hoop dat onderhandelinge tot ʼn diplomatieke oplossing sal lei. Trump het gister op die perseel van sy beplande balsaal by die Withuis aan joernaliste gesê hy gee Teheran tot die naweek tyd om ʼn ooreenkoms te sluit om die oorlog te beëindig. Hy het herhaal dat Iran nie ʼn kernwapen mag hê nie:
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz, het aan Wimbledon onttrek terwyl hy herstel van ʼn pols-besering. Dit het hom ook uit die Franse Ope gehou, waar hy die verdedigende kampioen is. Die Spanjaard het nog nie weer deelgeneem sedert hy verlede maand aan die Barcelona Ope onttrek het nie. Die 23-jarige, sewemalige Grand Slam-kampioen sê hy herstel goed, maar is nog nie reg om mee te ding nie. Alcaraz het vanjaar die jongste man geword wat ʼn loopbaan-Grand Slam behaal toe hy die Australiese Ope gebuit het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-480-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-467-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Kunstefees het sy musiekprogram vir 2026 bekend gemaak, met twee naweke van Afro-pop, gospel, jazz en pan-Afrikaanse optredes op die spyskaart in Makhanda in die Oos-Kaap. Die fees vind van 25 Junie tot 5 Julie plaas en sal kunstenaars soos Nomfundo Moh, Nontokozo Mkhize, Msaki, die Soweto Strykkwartet, asook Standard Bank se jong kunstenaars Gabi Motuba en Ndumiso Manana insluit. Gospel- en koormusiek behoort gewild te wees, met optredes deur die Bala Family, die Masicule Jeugkoor en Betusile Mcinga.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….