Nuus 06:00
BULLETIN 20 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe verdedig die bestendigheid van brandstofvoorsiening
# Frank Chikane onthul die marteling deur Veiligheidstaklede
# En rugby: Die Leeus is bekommerd oor beserings voor die VRK-kwarteindstryd teen Leinster
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê Suid-Afrika sal nie brandstoftekorte ondervind nie, ten spyte van stygende wêreldwye oliepryse as gevolg van spanning in die Straat van Hormoes. Opposisiepartye het egter die regering se hantering van brandstofpryse gekritiseer. Tydens ‘n begrotingsdebat het Mantashe aan parlementslede gesê ‘n regeringsbesoek aan die streek is nodig om beter te verstaan wat die prysstygings veroorsaak:
# Die Universiteit van die Wes-Kaap het sy ondersteuning beloof vir ‘n nagraadse student, Hajar Kagiso Al-Tha’irah Ahjum-Mathee, wat deel was van die Global Sumud Flotilla wat humanitêre hulp aan Gaza wou lewer. Die vaartuig is vroeër vandeesweek deur Israeliese magte in die Middellandse See onderskep. Hajar, wat ‘n meestersgraad in mediese biowetenskap volg en die voorsitter van die universiteit se Palestynse Solidariteitsvereniging is, het sterk steun van die instelling ontvang. Die universiteit het by internasionale oproepe aangesluit vir die veilige en onmiddellike vrylating van alle aangehoudendes.
# Die teen-apartheidsaktivis eerwaarde Frank Chikane sê hy moes baie verduur onder die hand van apartheidsera-veiligheidstakbeamptes. Hy het gister voor die Waarheids- en Versoeningskommissie-ondersoek getuig, wat vertragings in die vervolging van apartheidsera-misdade ondersoek. In 1989 het hy vergiftiging deur staatsagente oorleef terwyl hy as die hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gedien het. Chikane het die marteling en poging tot vergiftiging wat hy oorleef het, herleef:
# Die voorsitter van Rand Water, Ramateu Monyokolo, sê die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, se begrotingspos vir 2026 is ‘n belangrike stap om Suid-Afrika se waterkrisis aan te spreek. Monyokolo sê dit dui op ‘n verskuiwing na sterker regering, aanspreeklikheid en institusionele hervorming. Monyokolo het verwys na kwessies soos munisipale infrastruktuur wat verbrokkel, rioolstortings en onbetroubare voorraad. Monyokolo het planne vir ‘n Nasionale Waterkrisiskomitee en verbeterde koördinering regoor die regering verwelkom. Hy beklemtoon sukses hang af van implementering, finansiële dissipline en die herstel van openbare vertroue in waterdienste.
# Die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, Tedros Adhanom Ghebreyesus, is bekommerd oor die spoed en omvang van die Ebola-epidemie in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda. Daar was 131 sterftes wat met die uitbreking verband hou. Die WGO het die uitbreking tot ‘n internasionale noodgeval verklaar. Ghebreyesus sê die aantal gevalle en sterftes sal verminder namate veldbedrywighede verskerp word, insluitend die versterking van toesig, kontakopsporing en laboratoriumtoetse:
# Rugby: Die Leeus sal waarskynlik sonder twee van sy staatmakers, Springbok-skrumskakel Morné van der Berg en flank Ruan Venter, moet klaarkom vir volgende naweek se Verenigde Rugbykampioenskapskwarteindstryd teen Leinster in Ierland. Albei spelers het reeds teruggekeer huis toe, terwyl die res van die groep in Ierland gebly het na die afgelope naweek se groepwedstryd teen Munster. Die Johannesburgse span is ook bekommerd oor die fiksheid van kaptein Francke Horn en senter Henco van Wyk. Afrigter Ivan van Wyk glo albei kan betyds herstel vir die Leinster-kragmeting.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-675-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-481-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….