Nuus 16:00
BULLETIN 19 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vereer buitelandse bondgenote met die Orde van die Metgeselle van OR Tambo
# ‘n Waarskuwing dat Suid-Afrika teen 2030 ‘n gas-tekort kan ondervind
# En sokker: Neymar is ingesluit in Brasilië se Wêreldbeker-groep
# President Cyril Ramaphosa het verskeie buitelandse burgers vereer met die Orde van die Metgeselle van OR Tambo vir hul ondersteuning van vryheid en demokrasie in Suid-Afrika. Hy het tydens die toekenningseremonie in Pretoria gesê die toekenning erken vriendskap, solidariteit en bydraes tot vrede. Ontvangers sluit in Teresa Hillary Clarke van Amerika en professor Cherif Keita van Mali. Ramaphosa sê Suid-Afrika se vryheid is deur internasionale solidariteit bereik:
Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê intussen Suid-Afrika moet voortgaan om diegene te vereer wat die land se demokrasie en vryheid gevorm het. Hy het die ontvangers geprys vir hul diens en opoffering. McKenzie het ook die land se prestasies in wetenskap, leierskap en menseregte uitgelig en sê die ontvangers verteenwoordig die gees en veerkragtigheid van die nasie:
# Die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Nywerheids-gasverbruikers waarsku Suid-Afrika kan teen 2030 ‘n groot gasvoorsieningstekort ondervind. Die groep sê dalende voorsiening uit Mosambiek en die einde van Sasol se tydelike gasvoorsiening kan die bedryf ernstig raak. Die vereniging het dringende beleidsmaatreëls voorgestel, insluitend strategiese infrastruktuurbelegging, streeksgasvennootskappe en regeringsgesteunde befondsingsondersteuning. Hy sê onmiddellike optrede is nodig om die ekonomie te beskerm, nywerheidsgroei te ondersteun en ‘n bestendige energie-oorgang te verseker.
# Airlink gaan in Oktober sy eerste regstreekse vlugte tussen Kaapstad en Zanzibar instel. Die nuwe weeklikse Saterdagdiens volg op die bekendstelling van die roete tussen Johannesburg en Zanzibar in Junie. Die nuwe skedule verkort die reistyd vir passasiers wat tussen die Wes-Kaap en die eiland reis. Die meeste geskeduleerde reise van Kaapstad na Zanzibar het voorheen minstens een aansluiting via Johannesburg vereis. Uitvoerende hoof De Villiers Engelbrecht sê die roete sal toerisme- en sakereise verbeter. Passasiers wat reeds via Johannesburg bespreek het, kan gratis na die regstreekse diens oorskakel.
# Sokker: Die 34-jarige voorspeler, Neymar, is ingesluit in Brasilië se groep van 26 vir die Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Sy 79 is die meeste doele ooit vir Brasilië, maar hy het weens beserings in 2023 laas vir sy land gespeel. Afrigter Carlo Ancelotti het ook die La Liga-sterre Vinicius Junior van Real Madrid en Raphinha van Barcelona ingesluit. Premierliga-spelers soos Liverpool se doelwagter, Alisson, Gabriel Martinelli van Arsenal, en Casemiro en Matheus Cunha van Manchester United is ook in die groep. Brasilië het die Wêreldbeker al vyf keer gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-34 teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-736-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-539-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….