Nuus 12:00
BULLETIN 19 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi verwelkom die flink optrede teen ‘n aanklaer wat van minagting van die hof beskuldig word
# Die liggame van vier vermiste Italiaanse duikers is in die Maldives gevind
# En rugby: Anathi Qolo gaan die Springbok-vroue aanvoer in die Afrikabekertoernooi vir vroue
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, verwelkom die skorsing van ʼn aanklaer van Mpumalanga, Mkhuseli Ntaba, hangende tugoptrede. Hy het gister versuim om op te daag by die Kwaggafonteinse Landdroshof, waarna die saak teen die taxi-magnaat, Joe ‘Ferrari’ Sibanyoni en ander van die rol geskrap is. Hulle het tereggestaan op aanklagte van afpersing en geldwassery. Woordvoerder Palesa Rammitlwa sê ʼn lasbrief is uitgereik vir Ntaba se inhegtenisneming:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sal van vandag tot Donderdag ondersoek instel na die waterkrisis in Gauteng. Dit volg op talle klagtes oor volgehoue en wydverspreide watertekorte, herhalende ontwrigtings in dienslewering, verouderende infrastruktuur, mislukkings in bestuur en die verslegtende betroubaarheid van watervoorsieningstelsels. Die kommissie sê die ondersoek sal onder andere kyk na die omvang en aard van uitdagings met toegang tot water, sowel as die oorsake van herhalende watertekorte en die uitwerking daarvan op gemeenskappe, bestuur, begrotings en infrastruktuur-bestuurstelsels.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die volle omvang van verlede week se verwoestende storms word nog bepaal en die koste sal waarskynlik miljarde-rand beloop. Swaar reën, oorstromings en sterk wind het elf lewens in die provinsie geëis. Die provinsiale regering het aansoek gedoen dat die provinsie tot rampgebied verklaar word om te help met verligting en die herbou van gemeenskappe wat geraak is. Winde sê ʼn lang herstelproses lê voor:
Nuus uit die buiteland:
# Die liggame is gevind van vier Italiaanse duikers wat verlede week vermis geraak het tydens ʼn skubaduik-ongeluk in die Maldives. Amptenare het bevestig ʼn span hoogs opgeleide Finse en plaaslike duikers het hulle gevind in ʼn grot van 60-meter diep in die Vaavu-atol. Die liggaam van die vyfde duiker in die groep is reeds Donderdag kort na die voorval uitgehaal. Dis moontlik die ergste enkele duikongeluk in die klein nasie wat ʼn gewilde toeristebestemming in die Indiese Oseaan is.
# Rugby: Die Springbok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, het ʼn sterk groep van 28 spelers gekies vir die Afrikabekertoernooi vir vroue wat van Saterdag in Nairobi, Kenia, plaasvind. Anathi Qolo is kaptein van die span wat nege nuwelinge insluit, asook agt gewese toets-spelers wat weer na die internasionale verhoog terugkeer. Suid-Afrika, die verdedigende kampioen, speel haar groepswedstryde teen Uganda, Madagaskar en die gasvroue. De Bruin sê die toernooi is die ideale geleentheid vir nuwe spelers en gee sommige meer ervare spelers behoorlike wedstryd-tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-32 teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-93-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-543-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….