Nuus 09:00
BULLETIN 19 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Dialoog-bestuurskomitee aanvaar ‘n uitvoeringsraamwerk
# Die regering ondersoek die misbruik van Suid-Afrika se landswapen
# En Donald Trump sê hy stel vandag se groot aanval op Iran uit
# Die Nasionale Dialoog-bestuurskomitee het die proef-uitvoeringsraamwerk vir die Nasionale Dialoog amptelik aanvaar. Dit is ‘n praktiese riglyn vir die uitrol-fase van die Nasionale Dialoog-proefproses. Tydens die proefproses wat in Junie begin, sal 39 sektore van die Nasionale Dialoog altesaam 195 proef-dialoë in al nege provinsies koördineer. Die voorgestelde proef-dialoë se prioriteite is onder meer om vertroue te skep in gemeenskappe wat dikwels uitgesluit word van nasionale prosesse, en dialoogmodelle wat Suid-Afrika se maatskaplike, ekonomiese en geografiese verskeidenheid kan hanteer.
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het Suid-Afrika se Buro vir Heraldiek gevra om amptelik ondersoek in te stel nadat die Somaliese Vereniging van Suid-Afrika die landswapen skynbaar onregmagtig gebruik het. Kommer bestaan dat die vereniging Suid-Afrika se landswapen of ‘n gedeelte daarvan sonder toestemming in sy embleem en handelsmerk ingesluit het. Die woordvoerder van die departement, Zimasa Velaphi, sê die integriteit van Suid-Arika se nasionale simbole is ononderhandelbaar:
# Build One South Africa verwelkom die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling in Gauteng, Vuyiswa Ramokgopa, se besluit om die uitvoerende hoof van Gauteng se Dobbelraad, Karabo Mbele, af te dank en die finansiële hoof, Oscar Maripane, te skors. Mbele is afgedank na ʼn forensiese ondersoek na bewerings van korrupsie, finansiële wangedrag en bestuursmislukkings by die instelling. BOSA-woordvoerder, Ayanda Allie, sê hierdie verwikkeling versterk die behoefte aan ʼn volledige strafregtelike ondersoek:
# President Donald Trump van Amerika sê hy het sy administrasie opdrag gegee om eers te wag met ʼn beplande aanval op Iran wat vir vandag beplan was. Hy sê lande wat as bemiddelaars optree, het aan hom gesê die oorlog se einde is in sig. Hy het Teheran Sondag gewaarsku die tyd raak min om ʼn ooreenkoms te bereik of ʼn aanval te verwag. Trump het gister by die Withuis gewaarsku hy kan onmiddellik ʼn volle, grootskaalse aanslag op Iran loslaat:
# Sokker: Arsenal het ‘n senutergende wedstryd teen Burnley met 1-0 ingepalm en sodoende die reeds-gerelegeerde span se hoop beëindig om die Premierskap-titel vir die eerste keer in 22-jaar te wen. Kai Havertz het die enigste doel van die kragmeting aangeteken waarmee hy die Gunners laat wen het. Indien Manchester City vanaand teen Bournemouth verloor, wat reeds 16 wedstryde aaneen gewen het, sal Arsenal die kompetisie inpalm. Indien City egter teen die Cherries seëvier, moet Arsenal en Chrystal Palace Sondag op die laaste dag van die kompetisie sake uitspook.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-733-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-539-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….