Nuus 08:00
BULLETIN 19 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party verwyder sy nasionale woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela
# ActionSA doen ‘n beroep op ‘n breër beskouing van die grondbeginsels van Nasionale Gesondheidsversekering
# En die polisie ondersoek ‘n dodelike skietery by ‘n Islamitiese Sentrum in San Diego
# Die MK-party het sy nasionale woordvoerder en parlementslid, Nhlamulo Ndhlela summier geskors. Hy is met Sifiso Mahlangu vervang, wat onlangs sy pos as redakteur van The Star verlaat het. Ndhlela het die naweek ‘n verklaring voorgelees waarin hy beweer dat die pasgestigte MK-instituut volle beheer oor die party se leierskapstrukture sal oorneem. Die sekretaris-generaal, Sibonelo Nomvalo, sê die instituut het nie die grondwetlike gesag om die rol van nasionale amptenare te verander of partystrukture aan sy toesig te onderwerp nie:
# ActionSA sê die Konstitusionele Hof se verklaring dat belangrike bepalings in die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering ongrondwetlik is, is ‘n aansienlike oorwinning teen staatsinmenging. Volgens die beslissing is Artikel 36 tot 40 wat betrekking het op die sogenaamde “behoeftesertifikaat”, ongrondwetlik. Dit sou die staat toelaat om te bepaal waar dokters, tandartse, verpleegkundiges en ander gesondheidspraktisyns mag werk. ActionSA sê hierdie uitspraak herbevestig dat gehaltesorg nie bereik kan word deur dwang, burokrasie en gesentraliseerde staatsbeheer nie. Die party vra dat die onderliggende beginsels van NGV heroorweeg word.
# Die IVP het die raadslid van die King Cetshwayo-distriksmunisipaliteit, Sipho Mbatha, met onmiddellike ingang geskors. Dit volg na bewerings dat Mbatha betrokke was by afpersing, nadat hy na bewering geld van individue ingevorder het terwyl hy beweer het hy tree namens die party op. Mkhuleko Hlengwa van die party sê die IVP se nasionale raad het eenparig besluit om Mbatha uit die party en as ‘n proporsionele verteenwoordigingsraadslid te verwyder:
# Die polisie in San Diego, Kalifornië, beskou die noodlottige skietery by die Islamitiese Sentrum in die stad as ʼn haatmisdaad. Drie mense, insluitend ʼn veiligheidswag, is in die voorval dood. Twee tiener-verdagtes is naby die toneel in ʼn motor aangetref nadat hulle blykbaar hulself doodgeskiet het. Die sentrum is die grootste moskee in die San Diego-distrik. Die polisiehoof, Scott Wahl, sê voor hulle berigte oor skote ontvang het, het ʼn ma die owerhede gebel en haar seun as vermis aangemeld:
# Krieket: Sunrisers Hyderabad het hul plek in die Indiese Premierliga se uitspeelronde bespreek ná ʼn vyfpaaltjie-oorwinning teen die Chennai Super Kings. Pat Cummins het drie paaltjies platgetrek en die Super Kings tot 180 vir sewe beperk, met Dewald Brevis wat 44 lopies van 27 balle behaal het. Daarna het Ishan Kishan 70 aangeteken en Heinrich Klaasen 45. Hulle twee het boonop ʼn vennootskap van 75 lopies van 41 balle behaal om die Sunrisers tot oorwinning te lei. Die Sunrisers se sege het ook die Gujarat Titans se plek in die uitspeelronde verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-696-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-459-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 106-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….