Nuus 06:00
BULLETIN 19 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsdepartement sê die Konstitusionele Hof-uitspraak het geen regstreekse uitwerking op die NGV-wet nie
# Die VN ondersoek die dood van ‘n Rwandese volksmoordverdagte in aanhouding
# En tennis: Daar is geen nuus oor Alcaraz se terugkeer nie
# Die Departement van Gesondheid sê ‘n uitspraak deur die Konstitusionele Hof wat dele van die Nasionale Gesondheidswet ongrondwetlik verklaar, het geen regstreekse uitwerking op die uitrol van die Nasionale Gesondheidsversekering nie. Die hof het bevind artikels 36 tot 40 van die wet is ongrondwetlik en ongeldig. Foster Mohale van die departement sê die uitspraak hou verband met artikels van die gesondheidswet wat meer as 20 jaar gelede aangeneem maar nooit geïmplementeer is nie:
Die DA sê intussen hy staan steeds vas dat Nasionale Gesondheidsversekering, in sy huidige vorm, nie die antwoord is vir universele gehalte gesondheidsorg nie, aangesien dit die risiko loop om openbare en privaat gesondheidsorgstelsels te ondermyn. Dit volg na die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die bepaling van die staat waar gesondheidsorgpersoneel mag praktiseer. Michele Clarke van die DA sê hierdie uitspraak het ‘n belangrike uitwerking op die instelling van die wet:
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging het kommer uitgespreek oor die hoë vlakke van ingevoerde suiker uit lande soos Brasilië, Indië en Thailand. Die vereniging sê vir elke ton wat ingevoer word, verloor die suikerbedryf meer as sewe-duisend-500-rand. In Maart het 16-duisend ton ingevoerde suiker Suid-Afrika binnegekom, dubbel dié van Maart verlede jaar. Die voorsitter van Suikerrietkwekers, Higgins Mdluli, sê die huidige suikertariefmeganisme is verouderd en beskerm nie die plaaslike bedryf teen gesubsidieerde globale mededingers nie.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het ‘n aanklaer wat betrokke is by die taxibaas Joe “Ferrari” Sibanyoni-saak geskors nadat hy nie in die hof verskyn het nie. Die hoëprofiel-afpersing- en geldwassery-saak teen Sibanyoni en drie medebeskuldigdes is gevolglik in die Landdroshof in Kwaggafontein, Mpumalanga van die rol geskrap. Mthunzi Mhaga van die NVG sê daar sal dissiplinêre stappe teen die aanklaer geneem word na aanleiding van die voorval:
# Die Verenigde Nasies sê ‘n ondersoek is begin na die dood van ‘n verdagte uit die 1994 Rwandese volksmoord, Félicien Kabuga, wat in aanhouding in Den Haag, Nederland, dood is. Die 93-jarige is in 2023 weens demensie ongeskik verklaar om verhoor te word en is na berig word die naweek in die hospitaal dood. Kabuga word daarvan beskuldig dat hy ekstremistiese Hutu-media befonds het, insluitend RTLM-radio en die Kangura-tydskrif, wat moorde op Tutsi’s bevorder het. Hy is in 2020 naby Parys gearresteer ná 26 jaar as voortvlugtige. Dit is onduidelik of sy oorskot na Rwanda gerepatrieer sal word.
# Tennis: Carlos Alcaraz is nie seker wanneer hy sal kan terugkeer nie, nadat hy verlede maand ‘n polsbesering in die Barcelona Ope in sy tuisland, Spanje, opgedoen het. Terwyl Alcaraz as die wêreld se nommer twee afwesig was, het nommer een, Jannik Sinner, van krag tot krag gegaan en Sondag ‘n rekord sesde Meesters Een-duisend-titel by die Italiaanse Ope verower. Alcaraz het Sinner gelukgewens met die voltooiing van ‘n loopbaan Goue Meesterstitel en gesê hy verdien dit. Die Italianer is die absolute gunsteling om die kleibaan Grand Slam-toernooi, die Franse Ope wat Sondag begin, te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-981-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-674-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 105-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….