Nuus 16:00
BULLETIN 18 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA stel Glynnis Breytenbach aan as sy nuwe hoofsweep in die Parlement
# Die VF Plus verwelkom die hofuitspraak teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering
# En tennis: Sinner beskou Roland Garros as sy belangrikste toernooi van die jaar
# Die DA het Glynnis Breytenbach as sy nuwe hoofsweep in die Nasionale Vergadering aangestel. Die party sê sy beskik oor 12-jaar se parlementêre ervaring en dekades se ervaring as senior staatsaanklaer. Breytenbach sal saam met die adjunkhoofsweep, Baxolile Nodada, werk. Die DA se parlementêre leier, George Michalakis, sê Breytenbach sal toesig hou oor die party se parlementêre prosedures en as een van sy hoofonderhandelaars in die regering van nasionale eenheid dien:
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom ‘n uitspraak van die Konstitusionele Hof wat die Sertifikaat van Behoefte in die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering ongrondwetlik verklaar. Die party sê die uitspraak bevestig langdurige waarskuwings dat die NGV nie ‘n grondwetlike ondersoek sal oorleef nie. Philip van Staden van die VF Plus vra die regering om die NGV-proses te staak en te heroorweeg ten einde ‘n meer volhoubare gesondheidsorgstelsel te ontwikkel:
# Forum for South Africa neem kennis van berigte dat die beskuldigde, Vusimusi “Cat” Matlala, met die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie beraadslaag oor ‘n moontlike pleitooreenkoms. Dit hang blykbaar af van sy gewilligheid om bewyse te verskaf wat sekere mense betrek by die korrupsie-ondersoek na sy maatskappy, Medicare24. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê indien Matlala inligting verstrek oor korrupsie waarby senior polisiebeamptes en politici betrokke is, moet die proses voortgaan:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, beskou die Franse Ope as sy belangrikste toernooi vanjaar nadat hy gister sy 34ste agtereenvolgende Meesters-eenduisend-oorwinning behaal het op die Italiaanse Ope. Hy het die Noorweër Casper Ruud in die eindstryd verslaan om die eerste plaaslike kampioen in 50-jaar te word sedert Adriano Pannetti in 1976. Die 75-jarige het die trofee oorhandig. Sinner is die volslae gunsteling om sy eerste titel op Roland Garros te verower in die afwesigheid van sy groot mededinger Carlos Alcaraz, wat hom verlede jaar in die eindstryd geklop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-37 teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-404-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-553-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies sê een van die wêreld se vinnigs-groeiende uitdagings is die wêreldwye behuisingskrisis, wat byna 2,8-miljard mense wêreldwyd raak. Meer as 1,1-miljard mense woon in krotbuurte of informele nedersettings en meer as 120-miljoen mense is die afgelope dekade in krotbuurte en informele nedersettings gebore of het daarheen verhuis. Die VN waarsku die miljoene wat in onveilige behuising woon, is van die eerstes wat ly tydens vloede, hittegolwe en ander uiterste gebeurtenisse wat vererger as gevolg van die mensgemaakte klimaatkrisis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….