Nuus 13:00
BULLETIN 18 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering
# Die pad tussen Oudtshoorn en die Kango-grotte bly gesluit ná ‘n erge rotsstorting
# En rugby: Die voormalige Skotse legende Scott Hastings sterf op 61
# Die Solidariteits-beweging verwelkom die Konstitusionele Hof se beslissing dat die bepalings rakende die Sertifikaat van Behoefte in die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering ongeldig is. Die organisasie het aangevoer die wet gee die regering oormatige beheer oor waar gesondheids-beroepslui hul praktyke mag bedryf, uitbrei of verskuif. Solidariteit sê die stelsel skend grondwetlike regte, eiendomsregte en beroepsvryheid. Adjunk-uitvoerende hoof Anton van der Bijl sê dit kan lei tot staatsbeheer oor privaat gesondheidsorg:
# Die Wes-Kaapse Departement van Infrastruktuur sê die pad tussen Oudtshoorn en die wêreldberoemde Kango-grotte bly gesluit, terwyl spanne voortgaan om die puin van ‘n erge rotsstorting op te ruim. Motoriste wat na die grotte reis, word aangeraai om die alternatiewe roete via die MR363 te gebruik, en langs die R62 na Calitzdorp te reis voordat hulle afdraai na Buffelskloof en Matjiesrivier. LUR Tertuis Simmers sê hulle fokus op veiligheid:
# Die DA in die Wes-Kaap sê die provinsiale regering is verbind daartoe om kinders te beskerm teen siektes wat met inenting voorkom kan word deur sterk inentingsprogramme en uitreikveldtogte. Sewe-en-negentig-persent van kinders onder een is in die 2025/26-boekjaar teen masels en Duitse masels ingeënt. Woordvoerder Memory Booysen sê die belangrikste uitdagings sluit in verkeerde inligting oor entstowwe, veiligheidsbekommernis in sommige gemeenskappe en toegangsprobleme in afgeleë of hoë misdaadgebiede:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Amerikaanse Senaatsamptenaar het sekerheids-befondsing wat vir president Donald Trump se beplande balsaal in die Withuis gebruik kon word, uit ‘n reuse-bestedingspakket verwyder. Elizabeth MacDonough se besluit is ‘n knou vir Trump en sy administrasie. Trump het gesê die oprigting van die balsaal sal befonds word deur 6,5-miljard-rand se privaat skenkings. Republikeine in die Senaat het 65-miljard-rand se belastingbetaler-befondsing aan die Geheime Diens geëis vir sekerheids-opgraderings aan die balsaal en ander strukture wat daaronder gebou word.
# Rugby: Die voormalige senter van Skotland en die Britse en Ierse Leeus, Scott Hasting, is as ‘n legende geloof na sy dood op 61 weens komplikasies van kankerbehandeling. Hy het tussen 1986 en 1997 65 toetse vir Skotland gespeel, 51 daarvan saam met sy broer, die heelagter Gavin, en het ook die Leeus verteenwoordig op hul toere na Australië in 1989 en Nieu-Seeland in 1993. Hastings het in 1999 uitgetree en ‘n suksesvolle rugby-uitsaaier geword. Wêreldrugby sê hy het ‘n sleutelrol gespeel in Skotland se Grand Slam-triomf in 1990.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-35 teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-924-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-547-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….