Nuus 12:00
BULLETIN 18 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof skrap dele van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering
# Die pad tussen Oudtshoorn en die Kango-grotte bly gesluit ná ‘n erge rotsstorting
# En ‘n aardbewing tref China
# Die Konstitusionele Hof het beslis sekere bepalings van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering wat verband hou met die Sertifikaat van Behoefte, is ongrondwetlik. Die wet sou staatsgoedkeuring vereis vir gesondheidsorgverskaffers om praktyke te open, uit te brei of te verskuif. Die regering voer aan die stelsel sal gelyke toegang tot gesondheidsorgdienste verbeter, maar kritici, insluitend Solidariteit, sê dit gee die staat oormatige beheer oor die gesondheidsektor. Die saak is terugverwys na die Parlement vir heroorweging.
# Die Wes-Kaapse Departement van Infrastruktuur sê die pad tussen Oudtshoorn en die wêreldberoemde Kango-grotte bly gesluit, terwyl spanne voortgaan om die puin van ‘n erge rotsstorting op te ruim. Motoriste wat na die grotte reis, word aangeraai om die alternatiewe roete via die MR-363 te gebruik, en langs die R62 na Calitzdorp te reis voordat hulle afdraai na Buffelskloof en Matjiesrivier. LUR Tertuis Simmers sê hulle fokus op veiligheid:
Nuus uit die buiteland:
# Die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming sê die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda is ‘n teken dat entstowwe en medisyne plaaslik vervaardig moet word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die uitbreking tot ʼn gesondheids-noodsituasie van internasionale belang verklaar nadat 88 sterftes en meer as 300 moontlike gevalle aangemeld is. Die sentrum se direkteur-generaal, Jean Kaseya, sê die behoefte aan entstowwe is ʼn billikheidskwessie:
# ‘n Aardbewing met ‘n sterkte van 5.2 het China se suidwestelike streek in die vroeë oggendure getref, wat twee lewens geëis en meer as seweduisend mense in die stad Liuzhou gedwing het om te ontruim. Die staatsuitsaaier CCTV berig dat 13 geboue ingetuimel het, terwyl owerhede die integriteit van die spoorlyn-infrastruktuur inspekteer. Kommunikasie- en kraglyne, water- en gasvoorsiening, en verkeer funksioneer normaal. Soek- en reddingsoperasies is aan die gang, en owerhede waarsku oor vervoer-onderbrekings.
# Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle sal moet verbeter voor volgende Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen die Ierse span, Munster, op Loftus Versfeld. Die Bulle het die Italiaanse span Benetton 45-19 afgeransel vir ʼn tuis-kwarteindstryd. Dit was hul sesde agtereenvolgende sege, wat die vierde plek op die punteleer verseker het. Munster het die Leeus 24-17 geklop en vyfde geëindig. Ackermann sê hulle aanvalstegnieke is een van die fokuspunte:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-39 teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-965-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-545-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….