Nuus 11:00
BULLETIN 18 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê beleggers het vertroue in Suid-Afrika as ‘n aantreklike beleggersbestemming
# Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie verwerp vals berigte oor ‘n lasbrief vir Nhlanhla Mkhwanazi se inhegtenisneming
# En rugby: Die Bulle se afrigter sê daar is belangrike gebiede wat moet verbeter voor die VRK-kwarteindstryd
# President Cyril Ramaphosa sê die feit dat internasionale en plaaslike beleggers bereid is om kapitaal in Suid-Afrika te belê toon vertroue in die land as aantreklike beleggingsbestemming. Sedert die regering se eerste nasionale beleggingsveldtog in 2018, is 1,5-duisend-miljard-rand beloof en 634-miljard-rand belê in fabrieke, myne, datasentrums, kragaanlegte en ander infrastruktuur. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die regering skep toestande vir groei en verskaf die nodige sekerheid vir beleggers.
# Die EFF sê die Helen Suzman-stigting se hofaansoek om Julius Malema uit die Regterlike Dienskommissie te verwyder, is polities gemotiveer. Die stigting voer aan die Parlement moet vasstel of Malema steeds bevoeg is om in die kommissie te dien na sy onlangse skuldigbevinding en sy herhaalde openbare aanvalle op die regstelsel. Volgens die EFF bevestig die tydsberekening dat dit deel is van ‘n breër politieke veldtog om die aandag weg te neem van Ramaphosa se mislukkings en skandale.
# Die Teenkorrupsie-ondersoekdirektoraat het ontken dat hy ‘n lasbrief bekom het vir die inhegtenisneming van die KwaZulu-Natalse polisie-kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Dit volg op sosiale media-bewerings oor die marteling van verdagtes tydens ondervraging. Die direktoraat se woordvoerder, Henry Mamothame, sê dis duidelik dat die bewerings versin is om die eenheid se werk te ontwrig en die aandag af te trek van Mkhwanazi se verantwoordelikhede in die stryd teen misdaad:
Nuus uit die buiteland:
# Taiwan se president, Lai Ching-te, sê sy land sal nie konflik uitlok of laat toeneem nie, maar sal ook nie sy nasionale soewereiniteit en waardigheid prysgee nie. Beijing beskou Taiwan as sy grondgebied. Die Chinese president, Xi Jinping, het verlede week aan die Amerikaanse president, Donald Trump, gesê die Taiwanse vraagstuk is die belangrikste kwessie in bilaterale betrekkinge. Hy waarsku die twee lande kan koppe stamp indien dit verkeerd hanteer word en selfs vyandiggesind raak. Lai sê Taiwan se toekoms sal bepaal word deur sy inwoners.
# Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle sal moet verbeter voor volgende Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen die Ierse span, Munster, op Loftus Versfeld. Die Bulle het die Italiaanse span Benetton 45-19 afgeransel vir ʼn tuis-kwarteindstryd. Dit was hul sesde agtereenvolgende sege, wat die vierde plek op die punteleer verseker het. Munster het die Leeus 24-17 geklop en vyfde geëindig. Ackermann sê hulle aanvalstegnieke is een van die fokuspunte:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-41 teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-918-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-544-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….