Nuus 07:00
BULLETIN 18 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa loof die DRK en Uganda vir hul vinnige reaksie op Ebola
# Die regering versnel toegang tot waterdienste
# En minister Macpherson doen stappe om die regering se huurkontrakprobleme op te los
# President Cyril Ramaphosa het die regerings van die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda geloof vir hul leierskap en deursigtigheid om ‘n Ebola-uitbreking te verklaar. In die DRK se oostelike Ituri-provinsie is sowat 246 vermeende gevalle en 80 sterftes aangeteken. In Uganda is twee bevestigde gevalle, insluitend een sterfte, in die hoofstad Kampala aangemeld. Ramaphosa het in sy hoedanigheid as die Afrika-unie se hoof oor voorkoming, gereedheid en reaksie op pandemies gesê Afrika-unie-ledestate en internasionale vennote moet ondersteuning bied vir voorkoming, gereedheid en reaksie op pandemies.
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê die regering versnel die verskaffing van waterdienste aan gemeenskappe, veral dié in landelike gebiede. Tot op hede is meer as twee-duisend-600 nedersettings sonder betroubare drinkwater geïdentifiseer. Majodina sê die departement gebruik vinnige, kostedoeltreffende en toepaslike ingrypings soos grondwater-ontwikkeling, beskerming van fonteine en berging van reënwater. Sy sê hulle gee voorkeur aan befondsing deur toelaes, en die mobilisering van waterrade, die privaat sektor en burgerlike samelewing om die poging te bespoedig.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het aan al die nasionale ministers geskryf om departemente wat deur die eiendomsbestuurshandelsentiteit probleme met huurkontrakte het, toe te laat om beperkte magte kragtens artikel 18 van die Wet op die Bestuur van Onroerende Bate van die Regering aan te vra. Die stap is daarop gemik om vertragings, geskille en buitensporige huurkoste wat dienslewering beïnvloed, aan te spreek. Hy sê die hervorming sal toesig versterk, die staat se jaarlikse huurrekening van ses-miljard-rand verminder, die eiendomsbestuurshandelsentiteit stabiliseer en die stigting van die Suid-Afrikaanse Nasionale Eiendomsmaatskappy ondersteun.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê dis kommerwekkend dat munisipaliteite toenemend beskuldig word dat hulle staatskole te veel vra deur verkeerd berekende rekeningstate, verhoogde tariewe, historiese skuldoordrag en onwettige heffings op rekeningstate. Gautengse skole het in Maart 2026 583,9-miljoen-rand se munisipale skuld ouer as 60 dae gehad. Maile sê munisipaliteite wat staatskole te veel vra, lei tot massiewe munisipale skuld, dreigemente om elektrisiteit en water af te sny en ontwrigting van onderrig en leer:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het die “Loopbaan Goue Meesters” voltooi toe hy die Italiaanse Ope gewen het – ʼn rekord van ses agtereenvolgende Meesters-titels. Die 24-jarige Sinner het Casper Ruud van Noorweë geklop om die eerste Italiaanse kampioen in 50 jaar te word. Hy het boonop by Novak Djokovic aangesluit toe hy die volledige stel van nege ATP Meesters Eenduisend-titels ingepalm het. Djokovic het dié prestasie in 2018 behaal toe hy in Cincinnati gewen het. Sinner sê dis spesiaal om in sy eie land te wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-852-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-510-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Die ANC het sy hartseer uitgespreek na die dood van voormalige Noordwes-premier Bushy Maape. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri het Maape beskryf as ‘n vryheidsvegter, Umkhonto we Sizwe-agent en voormalige Robbeneiland-gevangene wat sy lewe aan Suid-Afrika se bevryding gewy het. Bhengu-Motsiri sê Maape was vol passie oor onderwys en het geglo dat opvoeding gemeenskappe kan ophef. Sy het bygevoeg dat sy lewe die opofferings simboliseer wat deur baie veterane van die stryd vir vryheid, demokrasie, onderwys en ontwikkeling in Suid-Afrika gemaak is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….