Nuus 17:00
BULLETIN 15 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brown Mogotsi se prokureur onttrek bewerings van beskerming by die Madlanga-kommissie
# Kaapstad bewillig miljarde vir opgraderings aan die MyCiTi-busdiens
# En, Sokker: Desiree Ellis teiken steeds kwalifisering vir die 2027 FIFA Wêreldbeker
# Nthabiseng Mohomane, die regsverteenwoordiger van Noordwes-sakeman Brown Mogotsi, het bewerings teruggetrek dat bewysleier Matthew Chaskalson, beskerming en vrywaring vir Mogotsi by die Madlanga-kommissie belowe het. Mohomane het aangevoer Mogotsi het geglo hy sou nadelige bevindinge vermy as hy sakeman Suleiman Carrim betrek. Onder ondervraging deur kommissaris Sesi Baloyi het sy egter toegegee dat WhatsApp-boodskappe en telefoonrekords wat aangebied is, geen bewyse van sulke beloftes bevat nie en het haar vroeëre verklaring formeel teruggetrek:
# Die Stad Kaapstad stel ‘n bedryfsbegroting van 4,7-miljard-rand voor vir stedelike vervoer vir die nuwe boekjaar op 1 Julie. Meer as 1,7-miljard-rand gaan aan die MyCiTi-busdiens, terwyl 1,9-miljard-rand vir pad-instandhouding bewillig is. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, Rob Quintas, sê die stad beplan ook groot beleggings in openbare vervoer, padopknappings en toeganklike stap- en fietsinfrastruktuur. Meer as ses-miljard-rand is oor die volgende drie jaar vir vervoerinfrastruktuurprojekte geoormerk.
Die Gautengse LUR vir die Omgewing, Ewan Botha, herbevestig die provinsie se verbintenis om onwettige storting en afvalverbranding in Kya Sands aan te pak. Botha sê gesamentlike wetstoepassing wat in Oktober verlede jaar begin is, het gelei tot inhegtenisnemings, boetes, beslagleggings en die sluiting van geriewe. Die SAPD, JMPD, Binnelandse Sake en die Stad Johannesburg was betrokke. Botha het ná kritiek van sommige inwoners, gesê die departement het sy metodes aangepas om op die langtermyn-uitwerking te fokus. Hy beklemtoon hernude onwettige storting maak die behoefte aan volgehoue sigbare wetstoepassing noodsaaklik en verdere operasies word beplan.
# Twee wêreldwye voedselmoniteringsliggame waarsku gebiede in suidelike Somalië verkeer in gevaar van hongersnood, met een distrik wat ‘n vlak van honger bereik het wat laas in 2022 ervaar is. Somalië, een van die wêreld se mees voedselonsekere nasies weens die gereelde droogte, konflik en armoede, het laas in 2011 met hongersnood geworstel, toe ongeveer 250-duisend mense gesterf het, en was weer in 2017 en 2022 in gevaar. Die VN-gesteunde Geïntegreerde Voedselsekerheidsfase-klassifisering se verslag dui aan meer as 37-persent van jong kinders in die Burhakaba-distrik in die suide van Somalië ly aan ernstige wanvoeding.
# Sokker: Die afrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, sê die span bly gefokus op kwalifisering vir die 2027 FIFA Vrouewêreldbeker in Brasilië. Ter voorbereiding vir die Afrikabeker-toernooi vir Vroue in Marokko vanaf 25 Julie tot 16 Augustus, speel hulle teen die Ivoorkus, Burkina Faso en Tanzanië in Groep B. Sy het aan SABC gesê beserings bied geleenthede vir ander spelers, terwyl die terugkeer van Jermaine Seoposenwe die groep versterk:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-64-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-543-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….