Nuus 16:00
BULLETIN 15 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens hernoem sy Madlanga-taakspan
# Die DA vra ‘n forensiese ondersoek na die verkrygingskandaal by Korrektiewe Dienste
# En gholf: Gerhard Pepler bou ‘n stewige voorsprong op in die Sonskyntoer se Pro Am-toernooi
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê die eenheid wat voorheen as die Madlanga-taakspan bekend gestaan het, sal nou die Kommissie se Aanbevelings-taakspan, of CRTT, genoem word. Die verandering het ten doel om duidelikheid te bied oor die span se mandaat, om sake te ondersoek wat voortspruit uit aanbevelings van die Madlanga-kommissie. Die polisie het die publiek en die media versoek om die nuwe amptelike naam te gebruik in toekomstige beriggewing. SAPD sê die taakspan sal voortgaan om sy pligte sonder vrees of guns uit te voer.
# Die DA eis ‘n dringende ondersoek na die Departement van Korrektiewe Dienste nadat die departement opgeblaasde pryse vir voedselvoorrade betaal het. Dit sluit 726-rand in vir ‘n liter kookolie en meer as drie-duisend-700-rand vir souspoeier. Pryse is later skerp verlaag nadat kontrakte hersien is. Die DA-lid, Janho Engelbrecht, sê die oorspronklike kontrakte, wat 115 verskaffers betrek, weerspieël moontlike korrupsie of ernstige verkrygingsmislukkings:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging vra dringende ondersteuning vir vloedgeteisterde gemeenskappe in die Wes-Kaap, waar hewige oorstromings en storms minstens tien lewens geëis het en duisende mense ontwortel het. Die vereniging sê die ramp beklemtoon die behoefte aan sterker rampvoorbereiding en beter infrastruktuuronderhoud. Phakamile Hlubi-Majola van die vereniging vra Suid-Afrikaners om te verenig in hulpverleningspogings, want die herstelkoste sal na verwagting miljarde rand beloop:
# Gholf: Gerhard Pepler het ‘n stewige voorsprong van drie houe in die Sonskyntoer se Pro-Am-toernooi by die Irene-buiteklub in Gauteng opgebou. Die 26-jarige Suid-Afrikaner het ‘n foutlose nege onder baansyfer 63 in die openingsronde aangeteken. Pepler skryf sy ontspanne ingesteldheid toe aan sy onlangse verhuising na Ballito. Hy is gemaklik voor sy naaste teenstanders Tyrone Ryan, Christiaan Burke en Jack Davidson wat saam tweede is op ses onder baansyfer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-39 teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-424-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-544-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-24-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse musikant en Parlementslid van die MK-party, Gezane Kobane, ook bekend as Papa Penny, het uit die Parlement en die MK-party bedank. Die Shangaan Disco-koning het in ‘n bedankingsbrief aan partyleier Jacob Zuma, interne aanvalle, laster en verkleinering deur provinsiale leiers in Limpopo as redes aangevoer. Kobane sê dit het sy waardigheid en naam wat oor dekades opgebou is, geskaad. Hy het Zuma bedank vir die geleentheid omte kon dien en hulle sterkte toegewens. Hy het in 2024 by die party aangesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….