Nuus 15:00
BULLETIN 15 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC is bekommerd oor die skeiding van magte in die Phala Phala-uitspraak
# Eskom oorweeg stappe oor onreëlmatige dieselverkrygingskontrakte ter waarde van 21-miljard-rand
# En, BOSA lê bedrogklagte teen die Dobbelraad se uitvoerende hoof
# ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê die party is bekommerd oor moontlike geregtelike inmenging ná die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Parlement se standpunt teenoor president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-saak. Mbalula het op ‘n nuuskonferensie gesê die ANC glo die hof het die Parlement opdrag gegee oor hoe om die Artikel 89-ampsklagproses te hanteer. Hy sê die party ondersoek of die uitspraak ‘n uitwerking het op die beginsel van die skeiding van magte:
# Eskom sê dissiplinêre stappe en moontlike strafregtelike aanklagte sal gedoen word teen verskeie werknemers en verskaffers. Dit volg nadat ‘n ondersoek na onreëlmatige dieselverkrygingskontrakte ter waarde van 21-miljard-rand afgehandel is. Die ondersoek is in Maart 2025 begin en het gefokus op kontrakte vir die voorsiening van diesel aan Eskom se oopsiklus-gasturbine-kragstasies, insluitend die strategies belangrike Ankerlig-kragstasie naby Kaapstad. Die kragvoorsiener sê ondersoeke dui op tekortkominge in verkrygingsbeheer, twyfelagtige aanstellings van verskaffers, en meer as drie-miljard-rand in onreëlmatige vooruitbetalings aan dieselkontrakteurs.
# Build One South Africa het strafregtelike klagte teen die uitvoerende hoof van die Gautengse-dobbelraad, Karabo Mbele, gelê oor bewerings van bedrog, korrupsie en ampsmisbruik. Die Gautengse lid van die provinsiale wetgewer, Ayanda Allie, het die saak in die Bramley-polisiestasie aanhangig gemaak na verslae van verklikkers ontvang is. Die bewerings behels onreëlmatige befondsingstoekennings en belangebotsings rakende werwings-ondernemings en maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsprojekte van miljoene rand. BOSA het die Gautengse LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Vuyiswa Ramakgopa, versoek om Mbele te skors hangende ondersoeke.
# Die Polisie- en Gevangenesvakbond verwerp die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, se plan om weer range in te stel en die departement te militariseer sonder behoorlike onderhandelings met georganiseerde arbeid. Hy sê dis gemik op die verbetering van dissipline en herstel van strukturele hiërargie. Richard Mamabolo van POPCRU sê dié gevaarlike agteruitgang verteenwoordig ‘n aanval op die demokratiese hervorming van korrektiewe dienste en is ‘n skending van gevestigde gesamentlike bedingings-ooreenkomste:
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, het ‘n groep van 23 aangekondig om Japan volgende maand in twee internasionale vriendskaplike wegwedstryde te pak. Thembi Kgatlana en Bongeka Gamede, wat oorsee speel, is terug in die groep nadat hulle die onlangse kamp in Algerië weens beserings misgeloop het. Ellis sê die kragmetings bied geleentheid om spelers te toets in aanloop tot die Afrikabekertoernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-32 teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-668-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-563-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….