Nuus 12:00
BULLETIN 15 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen sê dis ‘n pluimpie dat Suid-Afrika Spanje as sitrusuitvoerder verbygesteek het
# Swaar reën laat Kaapstad se damvlakke styg
# En rugby: Daar is baie op die spel in die laaste groepronde van die Verenigde Rugbykampioenskap
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika se produksiegroei moet beloon word met groter diplomasie en infrastruktuur-ondersteuning. Dit volg nadat die land Spanje amptelik verbygesteek het as grootste sitrus-uitvoerder, met 2,9-miljoen ton verlede jaar. Dit word toegeskryf aan Spaanse boere wat toenemend probeer aanpas by ingewikkelde klimaatstoestande. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê Suid-Afrika en Spanje speel aanvullende rolle op die wêreldmark:
# Forum for South Africa sê Sisisi Tolashe se afdanking as minister van Maatskaplike Ontwikkeling moet ‘n duidelike boodskap stuur aan openbare verteenwoordigers dat hulle nie beskerm word teen aanspreeklikheid nie. Sy word beskuldig oor aanstellings in die departement en motors wat aan die ANC-Vroueliga geskenk is, maar wat sy aan haar kinders gegee het. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê diegene wat persoonlike belange bo Suid-Afrika stel, sal die gevolge dra:
# Die Stad Kaapstad sê damvlakke het met 12,4-persent gestyg tot 61,2-persent ná hierdie week se swaar reën. Waterverbruik het terselfdertyd afgeneem tot 831-miljoen liter per dag, vanaf 874 verlede week. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badoodien, sê die water in die damme moet hou tot hierdie tyd volgende jaar, aangesien die metro nie kan staatmaak op die onvoorspelbare winterreën nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers waar die Republikeine die meerderheid het, het ‘n Demokraties-geleide mosie verwerp om president Donald Trump te verhoed om militêr teen Iran op te tree sonder goedkeuring van die Kongres. Die uitslag was gelyk met 212 stemme elk, en het misluk want ‘n meerderheid word benodig om te slaag. Dit is die derde stemming vanjaar. Demokrate het Trump herhaaldelik versoek om die Kongres te nader vir magtiging om militêre mag te gebruik, en beklemtoon volgens die Grondwet kan net die wetgewer oorlog verklaar, nie die president nie.
# Rugby: Daar is baie op die spel in die naweek se laaste groepsronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die voorste twee spanne op die punteleer, Glasgow Warriors en die Stormers, het reeds tuis-kwarteindstryde verseker, terwyl sewe spanne om die oorblywende ses kwarteind-plekke meeding. Die Stormers speel môre in Wallis teen Cardiff, die vierde-geplaaste Bulle pak Benetton in Pretoria, en die vyfde-geplaaste Leeus pak Munster in Limerick. Die Haaie, wat nie die volgende fase kan haal nie, is in die tiende posisie, en speel in Durban teen Zebre.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-36 teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-613-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-559-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….