Nuus 08:00
BULLETIN 15 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma gaan appelleer teen die uitspraak dat sy uitgestelde wapenhandelsaak moet voortgaan
# Die Parlementêre Etiekkomitee beveel strafmaatreëls aan teen David Skosana en Dean Macpherson
# En, die Internationale Monetêre Fonds waarsku indien Iran se oorlog voortduur gaan die wêreldekonomie op ‘n “ongunstige” scenario afstuur
# Die voormalige president Jacob Zuma het sy regspan opdrag gegee om te appelleer teen die uitspraak van die KwaZulu-Natal Hooggeregshof in Pietermaritzburg, wat opdrag gegee het sy wapenhandel-korrupsiesaak moet voortgaan. Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales staar ‘n korrupsieklag van ‘n multimiljard-dollar wapentransaksie van 1999 in die gesig. Regter Nkosinathi Chilli het verklaar dis in belang van geregtigheid dat die saak voortgaan ongeag enige aansoeke of hangende appèl. Die woordvoerder van die JG Zuma Stigting, Mzwanele Manyi, sê die uitspraak is totaal verkeerd:
# Die parlementêre gesamentlike komitee oor Etiek en Ledebelange het bevind die klagtes teen David Mandla Skosana van die MK-party en Dean Macpherson van die DA het meriete. Skosana is skuldig bevind aan onverklaarde sakebelange en dat hy ‘n vroue-joernalis geïntimideer het. Macpherson is skuldig bevind aan verbreking van die etiese kode nadat hy ActionSA-ondersteuners “amaphara” genoem het. Die woord word gewoonlik gebruik om na misdadigers, dwelmverslaafdes en sosiale parasiete te verwys. Die komitee het aanbevelings vir toepaslike strafmaatreëls gemaak wat albei Huise van die Parlement moet oorweeg.
# Die Internasionale Monetêre Fonds waarsku die voortgesette ontwrigting van Iran druk die wêreldekonomie na ʼn meer “ongunstige” scenario, wat gekenmerk word deur swakker groei en ʼn hoër inflasie-risiko. Hy sê globale groei kan verlangsaam tot 2,5-persent, wat laer is as die verwagte 3,1-persent in sy basislyn-vooruitsig. Die blokkering van die Straat van Hormoes waardeur ʼn vyfde van die wêreld se olie- en gas-voorraad gewoonlik beweeg, het energiepryse wêreldwyd die hoogte laat inskiet. Die IMF sê verwagte inflasie is steeds redelik goed geanker.
# Gholf: Die verdedigende kampioen, Scottie Scheffler, is onder sewe voorlopers by die PGA Kampioenskap na ʼn openingsrondte van 67 by die Aronimink-gholfklub in Pennsilvanië. Die Amerikaner is gesamentlik eerste saam met die Suid-Afrikaner Aldrich Potgieter, Australiër Min-Woo Lee, die Duitsers Martin Kaymer en Stephan Jaeger, Ryo Hisatsune van Japan en die Amerikaner Alex Smalley. Rory McIlroy van Noord-Ierland is sewe houe agter met vier bo 74. Scheffler sê dit was ʼn moeilike openingsrondte:
# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-31-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-611-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-3-sent per vat.
# En te slotte: Nasionale Ordes gaan volgende week aan 38 ontvangers toegeken word. Dis die hoogste eer wat Suid-Afrika toeken aan landsburgers en gesiene buitelandse burgers wat bydra tot die bevordering van demokrasie en die lewens van landsburgers verbeter. Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, ontvang die Orde van Ikhamanga in Goud vir sy besielende leierskap in rugby. Professor Salim Abdool Karim gaan die Orde van Mapungubwe in Goud ontvang vir sy bydrae tot mediese wetenskap en openbare gesondheid. Ander ontvangers sluit in Adele Kirsten, Wouter Kellerman en Cherif Keita van Mali.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….