Nuus 06:00
BULLETIN 15 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa spreek kommer oor stadige beleggingsvloei aan
# Die Nasionale Vervolgingsgesag vertrou Magudumana sal uiteindelik verhoor word
# En rugby: Willie le Roux speel hierdie naweek sy 400ste eersteklaswedstryd
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is bewus van kommer oor stadige beleggingslewering en hou vol vordering word gemaak deur middel van voortgesette hervormings. Tydens sy mondelinge antwoord op vrae in die Nasionale Vergadering het Ramaphosa gesê die regering se beleggingsveldtog bly op koers, met pogings gemik op die verbetering van vertroue, die ontsluiting van projekte en die versnelling van ekonomiese groei en werkskepping:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy vertrou dokter Nandipha Magudumana sal uiteindelik verhoor word en antwoord op die aanklagte teen haar. Sy betwis die wettigheid van haar deportasie uit Tanzanië in die Konstitusionele Hof. Sy is in hegtenis geneem terwyl sy saam met die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester in April 2023 op vlug was. Magudumana se regsargument is dat haar verwydering uit Tanzanië neerkom op ‘n “verbloemde uitlewering”. NVG-woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê die staat het bo verdenking opgetree:
# Die Gautengse Drankhandelaarsvereniging sê baie drankondernemings in die townships het steeds te kampe met regsonsekerheid ten spyte van bestaande bepalings wat die oordrag van sjebienpermitte moontlik maak. Handelaars eis nou ‘n volledige hersiening van dranklisensiewette na ‘n verdoemende ondersoekverslag na die Gautengse Drankraad, wat jare se regulatoriese mislukkings en inkonsekwente afdwinging uitlig. Jongikhaya Kraai van die vereniging vra dringende regulatoriese duidelikheid om die langdurige geskil op te los en bestendigheid in die sektor te herstel.
# Die Iranse minister van Buitelandse Sake, Abbas Aragchi, het mede-BRICS-lidlande versoek om die VSA en Israel te veroordeel oor wat hy hul “onwettige aggressie” teen Teheran genoem het. Hy het gister by die vergadering van ministers van Buitelandse Sake in Nieu-Delhi, Indië, gepraat. Die oorlog in Iran het sy 77ste dag betree. Aragchi sê die oorlog in sy land is nie bloot ‘n konflik teen Iran nie, maar ‘n stryd om die nuwe wêreld:
# Rugby: Die Springbok-staatmaker Willie le Roux speel môre sy 400ste eersteklas-wedstryd wanneer die Bulle die Italiaanse span Benetton pak in hul laaste Verenigde Rugbykampioenskap-groepwedstryd in Pretoria. Die 36-jarige veelsydige agterspeler het sy loopbaan by Boland begin waarna hy vir spanne soos Griekwas, die Cheetahs en die Haaie gespeel het voor hy na Loftus Versfeld verhuis het. Hy het sedert 2013 101 toetse vir Suid-Afrika gespeel, 75 punte aangeteken en tot talle drieë bygedra. Le Roux sê hy het nog geen planne om uit te tree nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-526-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-661-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe ondersese kabelprojek wat Europa met Afrika verbind, is van stapel gestuur na die ondertekening van ‘n memorandum van ooreenkoms deur verskeie maatskappye, insluitend die Orange Group en Sonatel. Die ‘Via Africa’ kabelprojek is daarop gemik om digitale konnektiwiteit tussen die vastelande te verbeter. Die kabelstelsel sal Europa met Suid-Afrika verbind langs Afrika se Atlantiese kus. Beplande landingspunte sluit in die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Portugal, Nigerië en Senegal. Daar word verwag die projek sal die veerkragtigheid van die internet versterk, konnektiwiteitsdiversiteit verhoog en digitale groei oor die hele vasteland ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….