Nuus 18:00
BULLETIN 15 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa gee energie- en logistieke beperkings die skuld vir die swak beleggingsgroei
# Jeugwerkloosheid en geslagsgeweld gaan beklemtoon word tydens die herdenking van die 1976-jeugopstande
# En, Sokker: FIFA se president sê voorbereidings vir die Wêreldbekertoernooi verloop glad
# President Cyril Ramaphosa sê energietekorte en logistieke uitdagings is belangrike faktore wat belegging en ekonomiese groei in Suid-Afrika kortwiek. Ramaphosa het mondelings geantwoord op vrae in die Parlement en sê voortdurende elektrisiteitsuitdagings en ondoeltreffendheid in die vervoer- en vragstelsel ontmoedig ondernemings om op hoër vlakke te belê. Hy voeg by hervormings in energie en logistiek is daarop gemik om beleggersvertroue te versterk, produktiwiteit te verbeter en ekonomiese groei en werkskepping te dryf:
# Die minister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê Suid-Afrika staan voor ‘n groot uitdaging om opgeleide jongmense in die ekonomie op te neem. Dit volg terwyl die land die 50ste herdenking van die 1976 Jeugopstand in Soweto herdenk. Die jaarlange veldtog vereer die opofferings van die studente wat die kern van Suid-Afrika se bevrydingstryd was. Chikunga sê die program skep ook dialoog oor geestesgesondheid, onderwys, geslagsgeweld en sosiale insluiting, terwyl dit groter jeugdeelname aan nasiebou en ekonomiese ontwikkeling aanmoedig.
# Die Afrika-forum vir Hoof- Uitvoerende Beamptes het amptelik in Kigali, Rwanda, geopen met sakeleiers, beleggers en staatshoofde wat Afrika se ekonomiese groei en mededingendheid bespreek. Meer as twee-duisend-800 afgevaardigdes uit bykans 90 lande woon die forum by, met die tema, The Scale Imperative: Why Africa Must Embrace Shared Ownership. Die Rwandese president Paul Kagame vra Afrikalande om voordeel te trek uit die vasteland se oorvloed van sonenergie, kritieke minerale en groeiende werksmag:
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, sê voorbereidings verloop glad vir die Wêreldbekertoernooi wat in minder as ‘n maand in Kanada, Amerika en Mexiko begin. Agt-en-veertig spanne gaan van 11 Junie tot 19 Julie in 16 stede deelneem aan die vergrote formaat. Mexiko en Suid-Afrika pak mekaar in die openingswedstryd. Teen laat verlede maand was meer as vyf-miljoen kaartjies reeds verkoop. Infantino verwag ‘n paar verrassings:
Intussen sal Madonna, Shakira en die K-pop boy band BTS die Super Bowl-styl halftydvertoning by vanjaar se Wêreldbeker-eindstryd in New Jersey in die VSA op 19 Julie lei. Die Colombiaanse popster, Shakira, stel vandag haar amptelike Wêreldbeker-liedjie vry. Die sewe-en-sestig-jarige Madonna stel haar 15de album in Julie vry. BTS, die musiekgroep met die beste verkope in die geskiedenis van Suid-Korea, sal by die geleentheid optree te midde van ‘n wêreldtoer van 85 dae om hul terugkeer te vier na’n drie jaar lange onderbreking waartydens hul militêre diensplig verrig het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-749-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-686-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 102-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….