Nuus 17:00
BULLETIN 14 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Beweerde inmenging na vore in Aeroton-dwelmklopjag-ondersoek
# Die omstrede Nandipha Magudumana se regstryd oor beweerde onwettige uitlewering in die Konstitusionele Hof
# En, Rusland voer die kragtigste hommeltuigaanvalle van die in Oekraïne oorlog uit
# ‘n Valke-offisier, Nkoana Sebola, het voor die Madlanga-kommissie getuig dat die verdagte, adjudant-offisier Marumo Magane, wat verbind word met die Aeroton-dwelmklopjag in Gauteng, ‘n senior offisier gebel het tydens sy inhegtenisneming op die toneel. Sebola sê die persoon het homself as ‘n brigadier Shibiri geïdentifiseer en ‘n vriendskaplike oplossing gevra. Sebola getuig hy het alle gesprekke geweier en die inhegtenisneming bevestig. Hy het die oproep by senior bestuur aangegee as moontlike inmenging in die ondersoek:
# Die omstrede dokter, Nandipha Magudumana hou vol haar oorhandiging aan die Suid-Afrikaanse owerhede uit Tanzanië in 2023 was nie ‘n wettige deportasie nie, maar ‘n onwettige en ongrondwetlike uitlewering wat die behoorlike proses geskend het. Magudumana betwis die proses in die Konstitusionele Hof nadat sy ‘n appèl by die Appèlhof verloor het. Haar regsverteenwoordiger, Anton Katz, het die sending, waarby senior polisiebeamptes en Interpol betrokke was, as ‘n slenter eerder as ‘n wettige proses beskryf:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê die jongste kwartaallikse arbeidsmagpeiling se uitslag skets ‘n kommerwekkende prentjie van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark. Die land se werkloosheidsyfer het in die eerste kwartaal vanjaar met 1,3-persentasiepunte tot 32,7-persent gestyg nadat 301-duisend mense hul werk verloor het. Die ministerie se woordvoerder, Thobeka Magcai, sê hulle is bewus van die moeilike sosio-ekonomiese werklikhede wat miljoene landsburgers raak terwyl hulle voortgaan om volhoubare werksgeleenthede te soek:
# Rusland het die kragtigste lugaanvalle sedert die begin van sy oorlog in Oekraïne uitgevoer en die hoofstad Kiëf en ander stede met honderde hommeltuie getref. Oekraïense amptenare sê Moskou het sedert gister meer as een-duisend-560 hommeltuie afgevuur en minstens 11 mense is dood. Oekraïene se president, Volodimir Zelensky, sê dit is beslis nie die optrede van iemand wat glo die oorlog kom tot ‘n einde nie. Die vyandelikhede, wat honderde-duisende lewens geëis en groot dele van Oekraïne verpletter het, duur reeds sedert Februarie 2022 voort ondanks Amerikaans-gesteunde vredespogings.
# Rugby: SA Rugby het verlede jaar ‘n kwart van sy algehele inkomste regstreeks aan die Springbokke, die Springbok-vroue, die Springbok-sewes, die Junior Bokke en ander nasionale spanne bestee. Dit is volgens jaarstate wat op vandag se jaarvergadering in Kaapstad voorgelê is. Uitvoerende hoof Rian Oberholzer sê die belegging het onmiddellik vrugte afgewerp, en die Bokke se voortgesette sukses is deur ander nasionale spanne weerspieël. SA Rugby se groepinkomste het met 29-persent gestyg van 1,5-miljard-rand in 2024 tot twee-miljard rand in 2025, waarvan 500-miljoen rand aan nasionale spanne bestee is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-787-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-692-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 102-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….