Nuus 13:00
BULLETIN 14 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK ontvang bykomende befondsing voor die plaaslike regeringsverkiesing
# Die Breërivier in vloed verwoes wingerdboere se oesvoorbereidings
# En Openbare kommentaar op die Wetsontwerp op Verklikker-beskerming eindig vandag
# Die Verkiesingskommissie het ‘n bykomende 1,1-miljard-rand van die Nasionale Tesourie ontvang voor die plaaslike regeringsverkiesing in November. Die OVK het aan die Parlement gesê die befondsing volg ná kommer oor ‘n begrotingstekort in sy aanvanklike toekenning van 3,1-miljard-rand. Die bykomende geld sal verkiesingsbedrywighede en verwante verkiesingskoste ondersteun. Die hoof-finansiële beampte, Dawn Mbatha, het aan SABC News gesê toegang tot befondsing is steeds onderhewig aan die indiening van geouditeerde finansiële state:
# Verskeie top wingerdplase lek hulle wonde na verwoestende en wysverspreide skade aan wingerde en infrastruktuur nadat die Breërivier in die Wes-Kaap dié week afgekom het. Boere sê die stygende vloedwater het hulle gedwing om te ontruim en het oesbedrywighede ontwrig. Noodspanne monitor steeds die gebiede wat geraak is terwyl produsente bekommerd is oor finansiële verliese en langtermyn-skade aan wingerde. Owerhede is besig om die omvang van die ramp te bepaal terwyl produsente waarsku wynproduksie en plaaslike werksgeleenthede kan geraak word. Opruimingsoperasies sal in die komende dae voortduur.
Intussen sê die Wes-Kaapse regering die N1 is heropen in die Kaapse Wynland na storm-ontwrigting, maar erge vertragings word steeds verwag omdat net een rigting op ‘n keer moontlik is. Woordvoerder Regan Thaw sê die padagentskap, SANRAL, het onverpoosd gewerk om die roete tussen Worcester en die Paarl toeganklik te maak. Verkeerbeheer is ingestel, met ‘n stop-en-ry-stelsel by Rawsonville se weegbrug. Hy sê daar is op plekke ompaaie, en vra geduld:
# Vandag is die sperdatum vir openbare kommentaar op die Wetsontwerp op Verklikker-beskerming. Dit is gemik op die hervorming van die beskermings-raamwerk deur middel van strenger beveiliging, duideliker verslagdoening-prosedures en geldelike aansporing vir mense wat korrupsie ontbloot. Sommige burgerlike organisasies steun die wetgewing, maar die Organisasie teen Belastingmisbruik sê skuiwergate stel steeds verklikkers bloot. Open Secrets sê die wetsontwerp gee nie genoeg aandag aan die viktimisering van verklikkers nie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is steeds op koers na sy sesde agtereenvolgende Meesters Een-duisend-titel op die Italiaanse Ope in sy geboorteland. Hy speel vandag in die kwarteindronde teen die Rus Andrey Rublev, wat hom in slegs drie van hul vorige tien ontmoetings kon klop. Rublev het tot 16de op die wêreldranglys teruggesak nadat hy in September 2021 vyfde was. Sinner word as die absolute gunsteling beskou nadat hy sy laaste 31 wedstryde op hierdie vlak gewen het, wat die Serwiër Novak Djokovic se rekord ewenaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-21 teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-730-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-692-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….