Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê hy sal nie rus voor Suid-Afrika weer die Wêreldbekertoernooi aanbied nie. Die land het die toernooi laas in 1995 aangebied toe die Springbokke die trofee met die eerste probeerslag opgeraap het. SA Rugby het daarna talle onsuksesvolle pogings aangewend om die wêreldskouspel aan te bied. Australië is die gasheer in 2027 en Amerika in 2031. McKenzie sê hy soek borge en die regering se ondersteuning om dalk te bie vir 2035.
Nog rugbynuus: Japan se nasionale span sal die volgende ses weke sonder hoofafrigter Eddie Jones moet klaarkom nadat hy geskors is vir die belediging van wedstrydbeamptes tydens die onder-23-span in sy geboorteland, Australië, verlede maand. Die Japannese beheerliggaam sê die 66-jarige is vir ‘n baie ernstige saak geskors. Hy sal die Nasieskampioenskap-toets teen Italië vroeg in Julie misloop, asook twee wedstryde teen Hongkong China en een teen die Maori All Blacks. Jones het sy straf aanvaar en sê hy betreur sy optrede ten sterkste.
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, sê voorbereidings verloop glad vir die Wêreldbekertoernooi wat in minder as ‘n maand in Kanada, Amerika en Mexiko begin. Agt-en-veertig spanne gaan van 11 Junie tot 19 Julie in 16 stede deelneem aan die vergrote formaat. Mexiko en Suid-Afrika pak mekaar in die openingswedstryd. Teen laat verlede maand was meer as vyf-miljoen kaartjies reeds verkoop. Infantino verwag ‘n paar verrassings:
# Krieket: Engeland se toetsgroep is aangepas vir die eerste toets teen Nieu-Seeland, met Emilio Gay wat Zak Crawley vervang as Ben Duckett se aanvangsvennoot. Dit dui op ‘n regstelling van die probleme in die onlangse reeks om die As teen Australië. Die 26-jarige Gay word beloon vir ‘n indrukwekkende vertoning in die graafskaps-kampioenskap, waar hy drie honderdtalle vir Durham behaal het. Die nuweling-snelbouler Sonny Baker en paaltjiewagter James Rew is ook ingesluit. Die eerste van die drie toetse begin op 4 Junie op Lord’s in Londen.
# En tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is steeds op koers na sy sesde agtereenvolgende Meesters Een-duisend-titel op die Italiaanse Ope in sy geboorteland. Hy speel vandag in die kwarteindronde teen die Rus Andrey Rublev, wat hom in slegs drie van hul vorige tien ontmoetings kon klop. Rublev het tot 16de op die wêreldranglys teruggesak nadat hy in September 2021 vyfde was. Sinner word as die absolute gunsteling beskou nadat hy sy laaste 31 wedstryde op hierdie vlak gewen het, wat die Serwiër Novak Djokovic se rekord ewenaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….