Nuus 12:00
BULLETIN 14 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die N1 heropen in albei rigtings tussen Worcester en die Paarl
# President Cyril Ramaphosa maak twee senior NVG-aanstellings om die stryd teen misdaad te versterk
# En rugby: Minister McKenzie wil hê Suid-Afrika moet weer die Wêreldbekertoernooi aanbied
# Die Wes-Kaapse regering sê die N1 is heropen in die Kaapse Wynland na storm-ontwrigting, maar erge vertragings word steeds verwag omdat net een rigting op ‘n keer moontlik is. Woordvoerder Regan Thaw sê die padagentskap, SANRAL, het onverpoosd gewerk om die roete tussen Worcester en die Paarl toeganklik te maak. Verkeerbeheer is ingestel, met ‘n stop-en-ry-stelsel by Rawsonville se weegbrug. Hy sê daar is op plekke ompaaie, en vra geduld:
Intussen sê die Stad Kaapstad sy elektrisiteitspanne het sedert Maandag op meer as ses-duisend diensversoeke reageer weens die dodelike storm. Hulle het meer as 10-duisend-800 diensversoeke van reg oor die metro ontvang weens stormskade aan elektrisiteit-infrastruktuur. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê al is die storm verby, gee spanne steeds aandag aan kragonderbrekings en noodsaaklike herstelwerk:
# President Cyril Ramaphosa het twee adjunk-nasionale direkteure van Openbare Vervolging aangestel. Advokaat Chuma Mtengwane is aangestel by die Batebeslagleggingseenheid, en advokaat Nicolette Astraid Bell by die Nasionale Vervolgingsdienste. Ramaphosa sê hierdie aanstellings is om te verseker die Nasionale Vervolgingsgesag bly doeltreffend in die stryd teen misdaad en om openbare vertroue te verseker.
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Kinderfonds, UNICEF, sê minstens 59 kinders is vermoedelik die afgelope week in Libanon dood of beseer. Die skietstilstand wat verlede maand aangekondig is, het nie daarin geslaag om die oorlog tussen Israel en Hizbollah te beëindig nie. Libanon se Openbare Gesondheidsnood-bedryfsentrum sê minstens 33 mense, insluitend vroue en kinders, is gister dood in Israelse aanvalle in die suidelike en sentrale streke. UNICEF waarsku meer as 770-duisend kinders in Libanon ondervind ‘n groeiende sielkundige krisis weens die herhaalde gevare van geweld, ontworteling en skade.
# Rugby: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê hy sal nie rus voor Suid-Afrika weer die Wêreldbekertoernooi aanbied nie. Die land het die toernooi laas in 1995 aangebied toe die Springbokke die trofee met die eerste probeerslag opgeraap het. SA Rugby het daarna talle onsuksesvolle pogings aangewend om die wêreldskouspel aan te bied. Australië is die gasheer in 2027 en Amerika in 2031. McKenzie sê hy soek borge en die regering se ondersteuning om dalk te bie vir 2035.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-21 teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-826-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-700-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….