Nuus 09:00
BULLETIN 14 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom waarsku dat politieke onsekerheid rondom president Ramaphosa tot swakker beleggersvertroue kan lei
# Cosatu kritiseer die samestelling van die Parlement se ampsklagkomitee
# En tennis, Iga Swiatek en Casper Ruud is deur na die halfeindstryde by die Italiaanse Ope
# Die hoofekonoom van Aluma Capital, Frederick Mitchell, sê hernude politieke onsekerheid rondom president Cyril Ramaphosa en die regering van nasionale eenheid kan lei tot swakker beleggersvertroue en vertraagde hervormings. Die Konstitusionele Hof het die pad gebaan vir die stigting van ‘n parlementêre ampsklagkomitee om Ramaphosa se gedrag in die Phala Phala-saga te ondersoek. Mitchell sê vir internasionale beleggers verteenwoordig Ramaphosa die primêre anker van die regering van nasionale eenheid en die gesig van strukturele hervorming. Hy sê enige ware bedreiging van sy posisie sal die Rand dadelik onder druk plaas.
# Die vakverbond Cosatu sê die Parlement se ampsklagkomitee wat aangestel word om die Artikel 89-verslag oor president Cyril Ramaphosa te beoordeel, is ongrondwetlik. Die komitee sal 31 lede hê, waarvan die ANC nege kry en die DA vyf. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê die Parlement se besluit oor die verteenwoordiging van partye is ongrondwetlik. Hy sê die komitee sluit politieke partye in wat slegs geringe teenwoordigheid in die Parlement het:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, doen ‘n beroep op die vestiging van ‘n onafhanklike beskermingsowerheid vir verklikkers om beter beskerming te verseker vir persone wat korrupsie blootlê. Die organisasie glo so ‘n liggaam moet sterk magte hê om sake te ondersoek, verklikkers te beskerm en vinnig te reageer wanneer daar vergelding plaasvind. Stefanie Fick van OUTA voer aan die huidige voorstelle doen nie genoeg nie en verklikkers word aan risiko’s blootgestel:
# Die Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu sê hy het die Verenigde Arabiese Emirate midde in die oorlog met Iran in die geheim besoek waar hy die president Sheikh Mohamed bin Zayed Al Nahyan ontmoet het. Hy voer aan dit het gelei tot ‘n geskiedkundige deurbraak in die verhouding tussen die twee lande. Iran het in Mei ‘n reeks missiele en hommeltuie op die Emirate afgevuur. Die Emirate ontken die beweerde besoek deur Netanyahu en sê sy betrekkinge met Israel berus nie op geheimhouding of skelm ooreenkomste nie.
# Tennis: Die driemalige kampioen, Iga Swiatek, is deur na die Italiaanse Ope se halfeindronde. Die Pool het die vyfde gekeurde Amerikaner, Jessica Pegula, afgeransel in haar eerste oorwinning oor ‘n toptien-teenstander hierdie seisoen. Swiatek kom nou teen Elina Svitolina van Oekraïne te staan wat met Elena Rybakina van Kasakstan afgereken het. In die mansafdeling het die Noorweër, Casper Ruud, die Rus Karen Khachanov verslaan om die halfeindronde te bereik. Die wêreld se nommer 25 gaan die Italianer, Luciano Darderi, takel wat die Spanjaard, Rafael Jodar, geklop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-279-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-688-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….