Nuus 07:00
BULLETIN 14 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verskyn vandag voor die Parlement vir terugvoer oor die regering se werk
# Die EFF sê oorvol tronke is ’n krisis
# En, koning Charles sê die Verenigde Koninkryk word deur ‘n gevaarlike en wispelturige wêreld bedreig
# President Cyril Ramaphosa beantwoord vandag in die Nasionale Vergadering in Kaapstad vrae oor kwessies wat verband hou met sake van nasionale, kontinentale en globale belang wat Suid-Afrika raak. Daar is onder meer vrae oor die invloed van verskeie beleggingskonferensies wat werkgeleenthede sou skep, die sukses van Operasie Voorspoed, en die regering se planne om studente se skuld aan te spreek. Ramaphosa sal ook antwoorde verskaf oor die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola.
# Die EFF verwerp die Departement van Korrektiewe Dienste se begroting van ongeveer 30,9-miljard-rand, wat in 2028/2029 tot 32,8-miljard-rand sal styg. Die departement verwag verminderings van 683,4-miljoen-rand oor die huidige Mediumtermyn-uitgaweraamwerk. Nontando Nolutshungu van die EFF sê die begroting sal lei tot oorbevolking, institusionele verval en menslike lyding. Op 5 Mei vanjaar was daar meer as 169-duisend gevangenes in die land se tronke wat neerkom op ‘n oorbevolkingsyfer van 58-persent. Nolutshungu sê dis ʼn krisis in die land se tronke:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het minister Sisisi Tolashe se spesiale raadgewer, Ngwako Kgatla, geskors na die Staatsdienskommissie se ondersoek. Dit het bevind Kgatla het ʼn familielid se CV aangepas om haar aanstelling as die minister se privaat sekretaris moontlik te maak. Die kommissie sê daar was samespanning, bedrog en vervalsing in die dokument. Die departement sê die skorsing is ʼn noodsaaklike prosedurele stap en vra toestemming om die Staatsdienskommissie se bevindings deeglik te ondersoek.
# Die DA in Gauteng veroordeel die voortgesette ineenstorting van Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni. Volgens die party het die fasiliteit meer as 200 vakante poste, insluitend dokters, verpleegsters en ondersteuningspersoneel, wat lei tot lang wagtye en verhoogde druk op werkers. Jack Bloom van die DA waarsku tekorte aan kernbelangrike toerusting, soos ventilators en monitors, stel pasiënte in gevaar:
# Koning Charles sê ʼn toenemend gevaarlike en wispelturige wêreld bedreig die Verenigde Koninkryk, en die konflik in die Midde-Ooste is slegs die jongste voorbeeld. Hy het die Parlement gister toegespreek waar hy planne uiteengesit het vir wetgewing om die polisie, die Nasionale Gesondheidsdiens en die strafregstelsel te hervorm, asook ʼn wetsontwerp om bande met die Europese Unie te versterk. Koning Charles waarsku dat elke element van Brittanje se energie-, verdediging- en ekonomiese sekerheid getoets sal word:
# Krieket: Engeland se toetsgroep is aangepas vir die eerste toets teen Nieu-Seeland met Emilio Gay wat as Ben Duckett se openingsmaat gekies is in die plek van Zak Crawley. Dit dui op ‘n regstelling van die probleme in die onlangse reeks om die As teen Australië. Die 26-jarige Gay word beloon vir ‘n indrukwekkende vertoning in die graafskapskampioenskap waar hy drie honderdtalle vir Durham behaal het. Die nuweling, snelbouler Sonny Baker en paaltjiewagter James Rew is ook ingesluit. Die eerste van die drie toetse begin op die vierde van volgende maand op Lord’s in Londen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-612-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-692-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….