Nuus 06:00
BULLETIN 14 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre hoofswepe stem in om ‘n ampsklagkomitee met 31 lede te stig
# Suid-Afrika se vervaardigingsproduksie het in Maart met 0,9-persent gestyg
# En rugby: Eddie Jones is vir ses weke geskors na ‘n uitbarsting in Australië
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het gister met die Hoofsweepforum vergader en voorstelle oor ‘n ampsklagkomitee voorgestel. Die Konstitusionele Hof het verlede Vrydag beslis die Parlement het ongrondwetlik opgetree toe hy teen die Artikel 89-paneelverslag gestem het, wat aanbeveel het dat ‘n ampsklagkomitee teen president Cyril Ramaphosa ingestel word. Dit is om ‘n prima facie-saak teen Ramaphosa te ondersoek oor die diefstal van geld op sy plaas Phala Phala in 2020. Die forum het ooreengekom op ‘n komitee van 31 lede, met die ANC wat die meeste setels, naamlik nege, beklee.
# Die Vryheidsfront Plus sê ‘n verslag deur die Spesiale Ondersoekeenheid het wydverspreide korrupsie en onreëlmatighede in grondhervormingsprojekte blootgelê, met meer as 654-miljoen-rand in kontrakte en besluite wat ongeldig verklaar is. Die verslag, wat aan die Parlement voorgelê is, het ook swak toesig en rekordhouding, en oneerlike amptenare as kerndrywers van sistemiese mislukkings uitgewys. Wynand Boshoff van die VF Plus sê die bevindinge toon die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling ondermyn grondherstelpogings:
# Statistiek Suid-Afrika sê vervaardigingsproduksie het in Maart met 0,9-persent gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Die toename is hoofsaaklik gedryf deur winste in voedsel en drank, petroleum en chemiese produkte, en elektriese masjinerie. Die sektor vir hout, papier, uitgewers en drukkerswese het egter ‘n afname aangeteken. Nicolai Claassen van Statistiek SA sê vervaardigingsverkope het met 1,6-persent in Maart gestyg, wat ‘n stadige maar bestendige verbetering in die sektor aandui:
# Die Madlanga-kommissie het gehoor die SAPD-adjudant-offisier, Boy Phakula, het ’n klag by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ingedien teen die hoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan. Dit hou verband met die beweerde diefstal van dwelms en regsverydeling na die Aeroton-dwelmbeslaglegging van 715 kilogram kokaïen. In reaksie op kommissaris Sesi Baloyi se vraag het Phakula erken hy het nie Khan formeel van die besit van die dwelms beskuldig nie, aangesien hy geen bewyse gehad het nie:
# # Die Hooggeregshof van Suid-Carolina het die moordveroordelings van die onteerde prokureur Alex Murdaugh tersyde gestel en ‘n nuwe verhoor gelas. Die 56-jarige is in Maart 2023 deur ‘n jurie skuldig bevind aan die moorde op sy vrou, Maggie en seun Paul in Julie 2021 en het twee lewenslange vonnisse ontvang. Die Hooggeregshof sê Murdaugh verdien ‘n nuwe verhoor omdat die plaaslike klerk van die distrik, Becky Hill, ‘n jurie onregverdig teen hom bevooroordeel het. Prokureur-generaal Alan Wilson sê sy kantoor beplan om Murdaugh weer op die moordklagte te verhoor.
# Rugby: Japan se nasionale span sal vir die volgende ses weke sonder hoofafrigter Eddie Jones moet klaarkom nadat hy geskors is weens sy gedrag teenoor wedstrydbeamptes tydens die onder-23 toer verlede maand na sy geboorteland, Australië. Die Japannese beheerliggaam sê die 66-jarige is vir ‘n baie ernstige saak geskors. Hy sal die Nasieskampioenskap-toets teen Italië vroeg in Julie misloop, asook twee wedstryde teen Hongkong, China en een teen die Maori All Blacks. Jones het sy straf aanvaar en sê hy betreur sy optrede ten sterkste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-367-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-700-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….