Nuus 18:00
BULLETIN 13 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fannie Masemola en Vusimusi Matlala se Medicare 24-tenderkorrupsiesaak uitgestel vir verdere ondersoeke
# Vier Mexikaanse burgers is onder 11 aangekeer in dwelmklopjag in Swartruggens, Noordwes
# En, Sokker: Argetyn, Lionel Messi steeds die Major League se bes-betaalde speler
# Die Pretoriase Landdroshof het die Medicare 24-tenderkorrupsiesaak wat die geskorste polisiekommissaris Fannie Masemola, die sakeman Vusimusi Matlala en verskeie senior polisiebeamptes betrek, tot 26 Junie uitgestel. Masemola staan tereg op aanklagte in verband met beweerde oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, terwyl Matlala en 12 medebeskuldigdes teregstaan op aanklagte van bedrog en korrupsie in verband met die tender van 228-miljoen-rand om gesondheidsorgdienste aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens te lewer. Die Staat sê nuwe bewyse het na vore gekom en verdere ondersoeke is steeds aan die gang.
# Die vakbondfederasie Saftu sê die jongste kwartaalsyfers van die Arbeidsmag-opname lê ‘n ekonomie bloot wat ‘n ernstige strukturele krisis ondervind, en ‘n gemeenskap wat tot wanhoop gedryf word. Die werkloosheidskoers het van die vierde kwartaal van 2025 met 1,3 persentasiepunte gestyg, van 31,4-persent tot 32,7-persent in die eerste kwartaal vanjaar. Asive Dyani van Saftu sê Suid-Afrika kan nie sy arbeidsgroei volhou, terwyl hy voortgaan op sy weg van de-industrialisering nie:
# Vier Mexikaanse burgers is onder elf verdagtes wat in hegtenis geneem is in ‘n groot dwelmklopjag op ‘n plaas in Swartruggens in Noordwes. Die polisie sê die intelligensie-gedrewe operasie het ‘n dwelmvervaardigingslaboratorium van etlike miljoene-rande ontdek, wat sedertdien afgetakel is. Die verdagtes sluit ook ‘n vrou in. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die arrestasies stuur ‘n sterk waarskuwing aan georganiseerde misdaadsindikate terwyl die polisie voortgaan met pogings om dwelmvervaardiging- en verspreidingsnetwerke te ontwrig:
# Die LUR vir Mobiliteit in die Wes-Kaap, Isaac Sileku, het provinsiale verkeersbeamptes geloof na ‘n klopjag tot ‘n groot dwelmbeslaglegging by die Tsitsikamma-tolplaza op die N2 gelei is. Beamptes het ongeveer 15 sakke saamgeperste dagga tydens ‘n roetine-voertuigondersoek gevind en die bestuurder in hegtenis geneem, terwyl ‘n passasier ontsnap het en steeds voortvlugtig is. Sileku sê beamptes het ook ‘n bestuurder naby Grabouw in hegtenis geneem nadat hulle 22 sakke perlemoen ter waarde van meer as 600-duisend-rand ontdek het, wat in ‘n voertuig versteek was:
# Sokker: Argentinië se kaptein, Lionel Messi, is steeds die hoogsbetaalde speler in Noord-Amerika se Major League, en verdien meer as dubbel as die naashoogste verdiener. Messi het laat verlede jaar sy kontrak met Inter Miami verleng wat sy basiese salaris verdubbel en die algehele gewaarborgde vergoeding tot 466-miljoen-rand per jaar verhoog het. Die tweede-hoogste verdiener, Son Heung-min van LAFC, verdien 184-miljoen-rand. Dié salarisse sluit vergoeding vir produkpromosies uit. Messi het 59 doele vir Miami in 64 wedstryde aangeteken sedert hy in 2023 by die klub aangesluit het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-629-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-678-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 105-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….