Nuus 16:00
BULLETIN 13 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA lê ‘n klagte teen Ramaphosa oor die Phala Phala-saak
# ‘n Polisiebeampte beweer inmenging by die ondersoek na die Aeroton‑dwelmklopjag voor die Madlanga-kommissie
# En ‘n verslag verskaf besonderhede van stelselmatige en wydverspreide seksuele geweld deur Hamas
# ActionSA het strafregtelike klagte teen president Cyril Ramaphosa gelê in die Bela‑Bela‑polisiestasie in Limpopo oor die Phala Phala‑skandaal. Dit sluit in oortredings van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, asook bedrog en meineed wat verband hou met verklarings oor die bedrag geld wat in 2020 van sy plaas in die provinsie gesteel is. Michael Beaumont van ActionSA sê Suid-Afrikaners verdien volle aanspreeklikheid en antwoorde:
# Adjudant‑offisier Boy Phakula het voor die Madlanga-kommissie getuig daar was ernstige inmenging tydens die ondersoek na die Aeroton‑dwelmklopjag in Gauteng in 2021. Hy sê onbekende persone het probeer om beheer te neem oor die misdaadtoneel en polisiebeamptes te intimideer. Phakula sê hy glo beamptes op die toneel is gemanipuleer om te keer dat hulle die ondersoek self beheer:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê sy departement sal ‘n padkaart publiseer vir die instel van die Suid-Afrikaanse groothandel-elektrisiteitsmark. Hy het tydens sy begrotingsrede gesê die plan is daarop gemik om onsekerheid rondom die oorgang na ‘n mededingende elektrisiteitsmark te verminder. Ramokgopa sê die nuwe stelsel sal pryse, deursigtigheid en doeltreffendheid verbeter. Hy het ook planne bevestig om elektrisiteitspryse te hervorm, transmissie-infrastruktuur te versterk en ‘n onafhanklike transmissiestelsel‑operateur te vestig as deel van breër hervormings in die energiesektor.
Nuus uit die buiteland:
# Hamas-militante en ander Palestynse gewapende groepe het hul slagoffers verkrag, aangerand en seksueel gemartel tydens en na die terreuraanval in die suide van Israel op 7 Oktober 2023. Dit is volgens ‘n verslag deur die Siviele Kommissie, wat gegrond is op 430 opgeneemde onderhoude met oorlewendes en getuies en meer as tienduisend foto’s en video’s wat deur aanvallers verfilm is. Die samesteller, menseregtekenner Cochav Elkayam-Levy, sê verkragtings, seksuele aanranding en seksuele marteling was bedoel om pyn en lyding te vererger. Sy beskryf die aanvalle as die bewapening van seksuele geweld.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy het ‘n doelgerigte groep aangewys vir volgende week se tweede belyningskamp in Kaapstad. Die 25 voorspelers en 15 agterspelers sluit twee nuwelinge in – die Leeus-losvoorspeler Sibabalwe Mahashe en die veelsydige Haaie-agterspeler Zekhetelo Siyaya – en tien spelers wat nog nie toetse gespeel het nie. Verskeie ervare Bokke is weens beserings op die kantlyn en Erasmus sê die doel van die kamp is om hierdie spelers bloot te stel aan die span se strukture en stelsels vir die volgende twee seisoene en daarna.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-27 teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-257-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-685-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….