Nuus 14:00
BULLETIN 13 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Beperkte toegang belemmer humanitêre pogings in die Kaapse Wynland
# NERSA vra die Hooggeregshof om uitstel om aansoeke vir munisipale tariewe af te handel
# En rugby: Georgië se voormalige kaptein is vir elf jaar verban weens sy rol in ‘n opkikker-toetsskandaal
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit vra humanitêre hulp ná die verwoestende vloede in die Wes-Kaap. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê duisende mense moes uit hul huise vlug en word gehuisves in gemeenskaps- en kerksale. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Gift of the Givers en die Heilsleër verskaf voorraad waar moontlik. Otto sê plaaslike sopkombuise en welsynsorganisasies bied ook hulp, maar die behoefte is groot en voorrade is min weens beperkte toegang.
# Die GOOD-party sê die getal aktiewe Suid-Afrikaanse werksoekers wat tot meer as 8,1-miljoen volwassenes gestyg het, asook volgehoue stadige ekonomiese groei, is ‘n nasionale krisis. Volgens die werkloosheidsyfer wat Statistiek Suid-Afrika vir die eerste kwartaal vanjaar bekendgemaak het, het die uitgebreide werkloosheidskoers met 1,6-persent tot 43,7-persent toegeneem. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hierdie nasionale krisis word nie voldoende uitgewis deur die maatskaplike toelaag van 370-rand nie:
# Die Nasionale Energiereguleerder sê hy gaan die Hooggeregshof nader en uitstel vra om die oorweging en goedkeuring van 14 uitstaande tariefaansoeke van munisipaliteite en privaat verspreiders vir die 2026/27-boekjaar te finaliseer. Van die 176 aansoeke wat teen 31 Maart ontvang is, is 162 op die voorgeskrewe sperdatum, 11 Mei, afgehandel. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê die hofaansoek is nodig om ontwrigting te voorkom voor die tariewe teen 1 Julie ingestel word:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie sê Lexus Suid-Afrika het sekere Lexus RC-F hoëprestasie-sportmotors herroep weens ‘n brandstofpompverwante fout. Die herroeping raak 22 voertuie wat op die Suid-Afrikaanse mark versprei is. Die betrokke modelle is die Lexus RZ-F 60C, Lexus RZ-F Track Edition 60L en Lexus RZ-F 60M, wat tussen 6 November 2014 en 29 Desember 2021 beskikbaar gestel en landwyd verkoop is. Eienaars word aangeraai om hul voertuie na enige goedgekeurde Lexus-handelaar te neem vir ‘n gratis vervanging van die brandstofpomp.
# Rugby: Die spel in Georgië is in omstredenheid gedompel toe die voormalige kaptein, Merab Sharikadze, vir elf-jaar verban is omdat hy sy spanmaats gehelp het om te kul in opkikkertoetse. Wêreldrugby het ook nog vyf spelers en die spandokter, Nutsa Shamatava, vir tot nege jaar verban. ‘n Gelyklopende ondersoek is saam met die Wêreld-agentskap teen Opkikkergebruik ingestel nadat onreëlmatighede in uriene-monsters gevind is. Daar is bevind Sharikadze het skoon uriene-monsters aan drie spelers verskaf voor 2023 se Wêreldbekertoernooi. Shamatava het spelers voor die tyd van beplande opkikkertoetse ingelig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-25 teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-946-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-698-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….