Nuus 13:00
BULLETIN 13 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Duisende mense word ontruim weens oorstromings in die Kaapse Wynland
# COPE sê Suid-Afrikaners staan voor ‘n krisis oor werkloosheid, armoede, honger en finansiële wanhoop
# En die vooraanstaande kommunikasiekenner en mode-ontwerper Maria McCloy sterf
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê al sy streke het skade aangemeld weens die gure weer wat die Wes-Kaap teister. Witzenberg, die Breedevallei, Drakenstein, Langeberg en Stellenbosch word die ergste geraak. Woordvoerder Jo-Anne Otto sê duisende mense moes ontruim word en word in gemeenskap- en kerksale gehuisves, terwyl ander nog deur vloedwater vasgekeer word. ‘n Verkenningsvlug word vandag gedoen om te bepaal waar mense nog gered moet word, en om die volle omvang van die skade te beraam.
# ‘n Ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, professor Raymond Parsons, sê Suid-Afrika se jongste werkloosheidsyfer is ‘n waarskuwingsteken oor die skok wat die wêreldwye energiekrisis begin veroorsaak. Die amptelike syfer het in die eerste kwartaal van vanjaar met 1,3-persent gestyg tot 32,7-persent. Parsons sê hoe langer die Midde-Oosterse oorlog voortduur, hoe groter is die gevaar van swakker ekonomiese groei en werksgeleenthede vir die res van die jaar:
COPE vra intussen ‘n dringende, versnelde nasionale herstelprogram vir die ekonomie met die klem op werkskepping, jeug-entrepreneurskap, die township- en landelike ekonomieë, en infrastruktuurskepping. Altesaam 345-duisend werksgeleenthede het van Januarie tot Maart verlore gegaan. Waarnemende nasionale voorsitter Pakes Dikgetsi sê die ineenstorting van indiensneming in die bou- en die dienssektor is veral kommerwekkend, omdat dié sektore tradisioneel groot getalle jongmense en laaggeskoolde werkers opneem:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging het bevestig die video-assistent-skeidsregtertegnologie sal volgende seisoen in plaaslike sokker bekendgestel word nadat hy 20-miljoen-rand in staatsbefondsing ontvang het. Die voorsitter van SAFA se finansieskomitee, Mxolisi Sibam, sê voorbereidings is reeds sewe maande lank aan die gang. Die stelsel sal in samewerking met die Premier Sokkerliga ingestel word met vrouesokker en nasionale kompetisies wat waarskynlik ook die tegnologie sal gebruik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-26 teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-180-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-691-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-18-sent per vat.
# En ten slotte: Die vooraanstaande Suid-Afrikaanse mode-ontwerper, kommunikasiekenner, entrepreneur en platejoggie, Maria McCloy, is in die ouderdom van 50 dood. Sy het in die Milpark-hospitaal in Johannesburg gesterf weens hartversaking. Haar onlangse bekende kliënte sluit in Ladysmith Black Mambazo, Thandiswa Mazwai en Sjava. McCloy se gesin beskryf haar as ‘n lewendige, skeppende siel wat die lewe ten volle omhels het. Hulle voeg by haar warmte en vrygewigheid laat ‘n blywende indruk op baie mense.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….