Nuus 08:00
BULLETIN 13 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê Suid-Afrika sink dieper in ekonomiese verval
# Die Kaapse storm raak meer as 84-duisend mense in informele nedersettings
# En tennis, Jannik Sinner ewenaar Novak Djokovic se rekord van 31 agtereenvolgende Meesters-oorwinnings
# Die EFF sê die huidige werkloosheidsyfer bevestig dat Suid-Afrika dieper sink in armoede, honger, hopeloosheid en ekonomiese verval. Die jongste kwartaallikse arbeidsmagpeiling toon dat die land in 2026 se eerste kwartaal 345-duisend werksgeleenthede verloor het wat die amptelike werkloosheidsyfer tot 32,7-persent laat klim. Volgens die EFF is die oplossing radikale herstrukturering van die ekonomie deur grondonteiening sonder vergoeding, massa-werkskepping, staatsbeheerde nywerheidsontwikkeling en die nasionalisering van strategiese sektore.
# Rise Mzansi vra dat alle parlementêre prosesse wetlik en volgens die korrekte prosedure hanteer moet word. Die party se kommentaar volg na die verklaring deur die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, dat die Parlement die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die Phala Phala-saak met betrekking tot president Cyril Ramaphosa sal implementeer. Makashule Gana van Rise Mzansi sê die Parlement moet verseker dat elke stap bo verdenking is en ten volle volgens die Grondwet en die oppergesag van die reg uitgevoer word:
# Kaapstad se Ramp-risikobestuur sê assesserings toon die afgelope dae se stormweer het 83-duisend-184 mense in 21-duisend-546 woonplekke geraak. Sedert Maandag het swaar reën, donderstorms, skadelike wind en sneeu in ses provinsies voorgekom en minstens tien lewens geëis. ‘n Woordvoerder van Ramp-risikobestuur, Charlotte Powell, sê hulle verleen hulp in gebiede soos Vygieskraal, Overcome Heights, Khayelitsha en Philippi-Oos:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê daar is tans geen teken van ʼn groter hantavirus-uitbreking nie. Die situasie kan egter verander weens die virus se lang ontkiemingstyd. Die WGO het tot dusver nege gevalle van die virus bevestig nadat mense die MV Hondius-passasierskip verlaat het. Drie mense wat op die skip was, is dood. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê daar kan in die komende weke meer gevalle wees:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een Jannik Sinner het sy 31ste agtereenvolgende oorwinning behaal om die Italiaanse Ope se kwarteindronde te bereik en daarmee Novak Djokovic se rekord van agtereenvolgende seges op die Meesters Eenduisend-vlak geëwenaar. Die Italianer het sy landgenoot, Andrea Pellegrino, 6-2, 6-3 geklop. Die Duitser, Alexander Zverev, is onverwags deur nog ʼn Italianer, Luciano Darderi, met 1-6, 7-6, 6-stroop uitgeskakel. In die vroueafdeling het die Amerikaner, Coco Gauff, met Mirra Andreeva van Rusland geklop om die halfeindronde te haal. Sy kom nou teen die Roemeen, Sorana Cirstea, te staan wat Jelena Ostapenko van Letland verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-en-37-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-690-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….