Nuus 16:00
BULLETIN 12 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê toerisme is ‘n belangrike dryfveer van Afrika se ekonomie
# Suid-Afrika se werkloosheidskrisis vererger met 8,1-miljoen werklose mense
# En rugby: Kolbe is die voorste puntemaker in Japan se Eersteliga met drieë én ‘n skopskoen
# President Cyril Ramaphosa vra Afrika-lande om toerisme te erken as ‘n belangrike dryfveer van ekonomiese groei en werkskepping. Hy het tydens die amptelike opening van die Afrika-reis-indaba in Durban gesê toerisme is ‘n groeiende sektor wat help om die vasteland se beeld wêreldwyd te vorm. Hy het die belangrikheid van sterk infrastruktuur beklemtoon en Afrika-nasies versoek om toestande te skep waarin die bedryf kan floreer:
# Suid-Afrika se werkloosheidskrisis het vererger, met 8,1-miljoen mense wat tans werkloos is. Statistieke Suid-Afrika berig die syfer het in die eerste kwartaal tot 32,7-persent gestyg, teenoor 31,4-persent in die vorige kwartaal. Dit volg ‘n afname van 345-duisend werkende persone. Statistieke SA merk ook ‘n toename op in werksoekers wat ontmoedig is. Die situasie beklemtoon die voortgesette druk op die arbeidsmark en ‘n groeiende uitdaging vir ekonomiese herstel.
# Die Konstitusionele Hof het die Departement van Binnelandse Sake se appèlaansoek gehandhaaf oor heraansoeke van asielsoekers. Regter Jody Kollapen het ‘n vorige beslissing van die Appèlhof tersyde gestel wat bepaal het asielsoekers wie se aansoeke finaal verwerp is, mag heraansoeke indien terwyl hulle in die land bly. Kollapen sê die uitspraak is daarop gemik om misbruik van die asielstelsel te voorkom en die oppergesag van die reg in immigrasiebestuur te herstel:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Nederlandse hospitaal het 12 personeellede in kwarantyn geplaas as voorsorgmaatreël nadat bloed en urine van ’n hantavirus‑pasiënt sonder die nakoming van streng protokolle hanteer is. Die Radboud Universiteit se mediese sentrum in Nijmegen sê die personeel sal vir ses weke in kwarantyn bly en voeg by die besmettingsgevaar is baie laag en pasiëntsorg het ononderbroke voortgegaan. Internasionale gesondheidsowerhede werk daaraan om die uitbreking te beperk op ‘n luukse passasierskip wat na Nederland gevaar het nadat die laaste passasiers op die Spaanse Kanariese Eilande afgelaai is.
# Rugby: Die Springbok-vleuel Chester Kolbe het Japan se Eersteliga-kompetisie as die bobaas-puntemaker afgesluit na ‘n briljante seisoen. Sy 185 punte het nege drieë ingesluit, maar die res het van sy skopskoen gekom. Dit het sy totaal vir sy klub, Tokyo Sungoliath, op 271 in 30 wedstryde te staan gebring, en hy kan daardie telling verbeter na hulle die eindronde gehaal het. Kolbe se vernuf met die skoen word as goeie nuus vir die Bokke beskou, want hy kan help met skopwerk met ‘n uitdagende seisoen wat voorlê.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-39 teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-651-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-693-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….