Nuus 06:00
BULLETIN 12 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hy sal nie bedank nie
# Inwoners van die Wes-Kaap word gewaarsku om uiters versigtig te wees tydens storms
# En die beskuldigde in die skietery tydens die Withuis-korrespondentedinee pleit onskuldig
# President Cyril Ramaphosa sê hy sal die verslag van die Artikel 89- onafhanklike paneel op hersiening neem. Die Konstitusionele Hof het Vrydag die Parlement se besluit om nie die verslag oor die Phala Phala-skandaal aan te neem nie, ongeldig verklaar. Die paneel het bevind dat Ramaphosa moontlik sy ampseed oortree het rakende sy optrede na die inbraak op sy plaas in Limpopo. Ramaphosa het gisteraand die nasie by die Uniegebou toegespreek en gesê hy glo die paneel se verslag is gebrekkig:
Ramaphosa sê voorts hoewel daar in sommige kringe oproepe was dat hy moet bedank, dwing niks in die Konstitusionele Hof se uitspraak hom om uit sy amp te bedank nie. Hy het gesê die hof het geen bevinding gemaak oor prima facie bewyse van wangedrag nie, en ook nie dat die beweerde gedrag, indien bepaal, ‘n staat van beskuldiging regverdig nie:
# Business Leadership South Africa sê die regering moet die ekonomiese koste van nuwe verkrygingsregulasies volledig evalueer voordat dit in werking gestel word. In haar weeklikse nuusbrief, waarsku die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, voorgestelde verkrygingsregulasies vir besighede wat 100-persent deur swart eienaars besit word, kan koste verhoog of projekte vertraag, veral in gespesialiseerde sektore soos ingenieurswese en inligtingstegnologie waar daar min verskaffers is. Mavuso sê hoewel transformasie belangrik is, moet beleid ook ekonomiese groei ondersteun, burokrasie verminder en waarde vir geld verseker.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het inwoners aangespoor om steeds versigtig te bly aangesien erge weer steeds oor groot dele van die provinsie voorkom. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku dat gevaarlike toestande sal voortduur, met meer reën en sterk wind wat vandag in die Tuinroete verwag word. Volgens Bredell is gebeurlikheidplanne in plek om die slegte weer te hanteer. Hy het inwoners gemaan om oorstroomde gebiede en riviere asook vallende puin te vermy.
# Die verdagte in die skietery tydens die dinee van die Withuis-korrespondentevereniging verlede maand het onskuldig gepleit. Cole Tomas Allen staan tereg op vier aanklagte. Dit is ‘n poging tot sluipmoord op president Donald Trump, die vervoer van ‘n vuurwapen met die doel om ‘n misdaad te pleeg, die afvuur van ‘n vuurwapen en aanranding met ‘n dodelike wapen. Aanklaers beweer Allen het deur ‘n sekuriteitskontrolepunt by die Washington Hilton-hotel, waar die geleentheid gehou is, gestorm en ‘n skoot op ‘n agent van die Amerikaanse geheime diens afgevuur. Hy is deur agente gekeer voordat hy die balsaal kon bereik.
# Rugby: Die Bulle glo voormalige Springbok-vrouespeler Zenay Jordaan is die perfekte leier vir die Daisies se volgende hoofstuk. Sy is tot 2029 as hoofafrigter van die unie se vrouespan aangestel. Die 35-jarige Jordaan het tussen 2008 en 2022 in 36 toetse vir Suid-Afrika gespeel, waarna sy uitgetree het en begin afrig het. Sy was die Daisies se hulpafrigter en die afgelope twee jaar mede-hoofafrigter. Die unie sê haar aanstelling is ’n sterk aanduiding van planne vir die ontwikkeling van die vrouespan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-805-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-753-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….