Nuus 09:00
BULLETIN 11 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verslag toon minstens 15-miljoen-rand is op Cyril Ramaphosa se plaas gesteel en nie net 9,5-miljoen-rand nie
# COPE vra ook dat die president minister Tolashe moet afdank
# En, die Britse eerste minister bly vasberade in weerwil van oproepe dat hy moet bedank
# Minstens 15-miljoen-rand is in Februarie 2020 op president Cyril Ramaphosa se plaas Phala Phala in Limpopo gesteel en nie die byna tien-miljoen-rand wat verklaar is nie. Dit is volgens News24, wat Imanuwela David se finansiële inligting bekom het. Hy word saam met twee ander beskuldig dat hulle die kontant, wat in dollars was, gesteel het. Volgens Ramaphosa se voorlegging aan die onafhanklike Artikel 89-paneel is sowat 9,5-miljoen-rand gesteel. News24 berig die polisie kon David net in 2020 en 2021 verbind met kontantdeposito’s of regstreekse kontanttransaksies van byna 15-miljoen-rand.
# COPE het ook ‘n oproep gedoen dat president Cyril Ramaphosa die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, afdank. Sy het volgens berigte ʼn voertuigskenking wat vir die ANC-vroueliga bedoel was, aan haar kinders gegee. Daar is ook berigte dat haar vorige huiswerker die helfte van haar staats-befondsde salaris aan Tolashe se dogter moes betaal. COPE se woordvoerder, Pakes Dikgetsi, sê Ramaphosa se versuim om beslissend op te tree, bevestig die waarneming dat die regering korrupsie aanvaar:
# Die MK-party eis die bedanking van die twee senior polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is vir beweerde korrupsie, die smokkel van edelmetale, en dwarsboming van die gereg. Die twee is in ‘n gekoördineerde teenkorrupsie-operasie in Gauteng vasgetrek, terwyl ‘n Durbanse sakeman ook aangekeer is. Die MK-party sê die inhegtenisnemings bevestig die diep sistemiese verrotting van die SAPD. Hy waarsku dit kan die openbare vertroue in die polisie ernstig knou wanneer senior polisiebeamptes by ernstige misdaad betrek word, omdat dit huidige ondersoeke in die wiele kan ry.
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, sê die jongste verkiesingsuitslae het nie sy vasberadenheid geraak om sy beloftes aan die Britse publiek na te kom nie, maar versterk dit eerder. ‘n Aantal lede van die Arbeidersparty in die parlement eis sy bedanking ná ‘n reeks rampspoedige uitslae in plaaslike verkiesings met die party wat steun aan die Reform UK-party en die Groenes afgestaan het. Die Arbeidersparty het ook sy houvas in Wallis verloor, waar hy vir ‘n eeu lank die botoon gevoer het. Stamer sê kiesers stuur ‘n duidelike boodskap:
# Sokker: Arsenal het West Ham met 1-nul geklop om nader te beweeg aan hul eerste Premierliga-titel in 22 jaar. Die Gunners het voorgeloop nadat Leandro Trossard in die 83ste minuut ‘n doel aangeteken het. Callum Wilson van West Ham se doel in ekstra tyd is na ʼn omstrede beslissing deur die video-skeidsregter omgekeer weens ʼn oortreding teen die Gunners se doelwagter, David Raya. Mikel Arteta se span is nou vyf punte voor Manchester City, wat nog ʼn wedstryd moet speel. Arteta het erkenning aan die skeidsregters gegee:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-744-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-668-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….