Nuus 07:00
BULLETIN 10 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party vra dat die ampsklagkomitee teen president Ramaphosa vinnig tot stand kom
# Die Madlanga-kommissie hou hierdie week sy laaste verhore voor hy op die tweede voorlopige verslag fokus
# En, Iran reageer op Amerika se voorstel om oorlog te beëindig
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party doen ‘n beroep op die Parlement om die totstandkoming van ‘n ampsklagkomitee teen president Cyril Ramaphosa te bespoedig. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof Vrydag beslis het dat die Parlement se besluit om Ramaphosa teen ‘n ampsklagondersoek te beskerm, ongrondwetlik was. ‘n Onafhanklike ondersoek het bevind Ramaphosa het ‘n saak om te beantwoord in verband met die rooftog op sy plaas Phala Phala in Limpopo in 2020. Die SAKP se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê die ANC moet volle aanspreeklikheid voor die mense van die land aanvaar.
Die Ahmed Kathrada-stigting vra intussen die Parlement om die ampsklag teen president Cyril Ramaphosa met die erns te benader wat dit verdien, en seker te maak dit ontaard nie in ‘n politieke spektakel of faksiestryd nie. Die stigting vra die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, om vinnig op te tree met die implementering van die hof se bevel, en te verseker dat die grondwetlike plig van toesig gehandhaaf word.
# Die Madlanga-kommissie hou hierdie week sy laaste verhore voor sy onderbreking om op sy tweede voorlopige verslag te fokus. Hy sal voortgaan om te fokus op wetstoepassers se beslaglegging op dwelms, asook op getuienis oor die hantering en diefstal of verdwyning van dwelmmiddels in KwaZulu-Natal en Gauteng. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê hulle beoog om die voorlopige verslag teen 29 Mei aan president Cyril Ramaphosa te oorhandig. Die kommissie se sperdatum om die werk af te handel, is tot 31 Augustus uitgestel.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi is nie die regte persoon om die finansiële volhoubaarheid van alle munisipaliteite in die provinsie reg te stel nie. Solly Msimanga van die party sê dit volg op die aankondiging deur die provinsiale LUR vir Finansies, Nkululeko Dunga, dat hy met die minister van Finansies, Enoch Godongwana, gepraat het oor die finansiële krisis in die Stad Johannesburg. Hy sê die LUR het genoem die Gauteng-regering onder Lesufi sal maatreëls implementeer om munisipale finansiële volhoubaarheid te herstel en dienslewering te beskerm:
# Iran sê hy het reageer op Amerika se voorstel om die oorlog te beëindig. Die memorandum van verstandhouding bestaan glo uit een bladsy met 14 punte wat voorstel die Straat van Hormoes word heropen terwyl ‘n raamwerk opgestel word vir verdere beraadslaging oor Teheran se kernprogram. Pakistan as die bemiddelaar het bevestig die voorstel is aan president Donald Trump se administrasie oorhandig. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê die oorlog sal voortgaan solank Iran ʼn voorraad hoogs verrykte uraan het wat gebruik kan word om kernwapens te vervaardig.
# Motorsport: Aprilia-renjaer Jorge Martin het die Franse MotoGP Grand Prix gewen. Dis sy eerste oorwinning sedert hy in 2024 die kampioenskap gewen het. Hy het sedert die einde van 2024 tot begin 2026 met talle beserings gesukkel en die meeste wedrenne misgeloop. Sy spanmaat en kampioenskapsleier, Marco Bezzecchi, was tweede en Ai Ogura van Trackhouse Racing derde. Ogura is die eerste Japannese renjaer sedert 2012 wat die MotoGP-podium haal. Martin sê sy uitdagings het hom beter gemaak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-206-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-685-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 102-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….