Nuus 06:00
BULLETIN 11 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering word versoek om rampbestuur te versterk
# ActionSA sê die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Phala Phala is ‘n oorwinning vir aanspreeklikheid
# En die ontruiming van die laaste passasiers van die MV Hondius-passasierskip word vandag afgehandel
# Die Nasionale Rampbestuursentrum het al drie regeringsvlakke versoek om hul steun vir rampbestuurspanne te verskerp en gebeurlikheidsmaatreëls te versterk. Dit volg nadat die ongunstige weerstoestande in sommige provinsies as ‘n nasionale ramp geklassifiseer is. Dit is weens stortreën, storms en skadelike winde in die Wes-Kaap, Noordwes, Vrystaat, Oos-Kaap, Noord-Kaap en Mpumalanga. Thabo Khupari van Nasionale Rampbestuur sê hierdie klassifikasie plaas nou die primêre verantwoordelikheid op die regering:
Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys sê intussen skole in sekere gebiede van die Kaapse Wynland-onderwysdistrik sal vandag gesluit wees. LUR David Maynier sê alle openbare gewone en spesiale behoefte-skole in Kringe 3, 4, 5 en 6 sal gesluit wees, insluitend Worcester, Ceres, Rawsonville, Tulbagh en die Hexriviervallei. Hy sê die sluiting is in belang van leerder- en onderwyserveiligheid:
# ActionSA het die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die Phala Phala-saak verwelkom. Die party se voorsitter, Michael Beaumont, sê hierdie uitspraak het bepaal dat die reël wat deur die Nasionale Vergadering gebruik is om te weier dat die Phala Phala-ondersoekverslag na die ampsklagkomitee verwys word, ongeldig was en die stemming moet daarom as ongeldig beskou word. Hy sê die feit dat hierdie verslag nou na ‘n Parlement moet terugkeer waar die ANC nie meer ‘n meerderheid het om die President teen die Grondwet te beskerm nie, is ‘n oorwinning vir aanspreeklikheid.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, nooi lede van die publiek uit om hul skriftelike kommentaar oor die gewysigde regulasies vir digitale identiteit teen 6 Junie in te dien, voor die regulasies afgehandel is vir amptelike bekendmaking. Hy sê die konsepregulasies is daarop gemik om die nodige regulatoriese raamwerk te skep vir ‘n moderne digitale identiteitstelsel in Suid‑Afrika. Schreiber sê hierdie stelsel kan Suid‑Afrika se vermoë om identiteitsdiefstal, finansiële misdaad, korrupsie en onwettige immigrasie te bekamp, aansienlik verbeter.
# Die MV Hondius-passasierskip, wat te midde van die hantavirus-uitbreking is, het gister in Tenerife vasgemeer. Die skip het met 146 mense in die Kanariese Eilande aangekom nadat drie mense aan die virus gesterf het en nog agt siek geword het. Tot dusver is passasiers van Spanje, Frankryk, Brittanje, Kanada, België en Nederland per lug ontruim, terwyl alle oorblywende passasiers na verwagting die skip vandag sal verlaat. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het ‘n kwarantynperiode van 42 dae aanbeveel vir die passasiers vanaf hul laaste blootstelling.
# Gholf: Yurav Premlall van Suid-Afrika het sy eerste DP World-toer-titel verower deur die Katalonië-kampioenskap in Barcelona met 14 houe te wen. Hy is 598ste gekeur in die wêreld en het op 28 onder baansyfer geëindig en die grootste wenmarge vir ‘n eerste DP World-toer-titel behaal. Sy landgenoot Shaun Norris was tweede. Nog ‘n Suid-Afrikaner, JC Ritchie, het die derde plek gedeel met Spanje se Alejandro Del Rey en Frankryk se Oihan Guillamoundeguy. Premlall sê hy het hard gewerk vir die oorwinning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-307-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-692-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 98-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….