Nuus 08:00
BULLETIN 9 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK Vroueliga vra die Parlement om vreesloos op te tree ná die Phala Phala-uitspraak
# ‘n Skietstilstand van drie dae is aangekondig tussen Rusland en Oekraïne
# En rugby: Die Stormers eindig gelykop teen Ulster danksy ‘n strafdrie in die doodsnikke van hul wedstryd
# Die MK-party se Vroueliga sê die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Phala Phala-saak is ‘n stap vorentoe vir aanspreeklikheid en geregtigheid. Lindi Mtshali van die liga sê die saak rakende president Cyril Ramaphosa se plaasinbraak in 2020, waar byna tien-miljoen-rand na bewering gesteel is, toon dat niemand bo die Grondwet verhewe is nie en pogings om politieke leiers teen ondersoek te beskerm, het misluk:
Intussen sê Rise Mzansi sê die uitspraak is ‘n duidelike herinnering dat die Parlement binne die reg moet optree en nie sy meerderheid kan gebruik om aanspreeklikheid rakende president Cyril Ramaphosa te ontduik nie. Die party sê die uitspraak moet sonder versuim ingestel word. Mabine Seabe van Rise Mzansi doen ‘n beroep op ‘n nuwe, deursigtige ondersoek na die plaasinbraak, waar die buitelandse valuta gesteel is.
# Die landbou-organisasie TLU SA het steun uitgespreek vir die vakbond Solidariteit wat sektorkodes vir swart ekonomiese bemagtiging in die regsberoep in die Hooggeregshof in Pretoria betwis. Die organisasie waarsku soortgelyke reëls kan in landbou en ander nywerhede ekonomiese groei benadeel en onsekerheid skep. Bennie van Zyl van TLU SA sê Suid-Afrika het beleide nodig wat fokus op werkgeleenthede en belegging eerder as rasseklassifikasie:
# Leiers van Rusland en Oekraïne het ooreengekom op ‘n drie-dae skietstilstand en die uitruil van gevangenes, ná ‘n versoek van die Amerikaanse president, Donald Trump. Die skietstilstand is bevestig deur die kantore van Volodymyr Zelensky en Vladimir Putin en sal van vandag tot Maandag duur. Die Amerikaanse president sê dit sluit ‘n opskorting van alle militêre optrede in, asook ‘n duisend gevangenes wat uitgeruil word uit elke land. President Zelensky het in sy reaksie gesê hy verwag die Verenigde State sal toesien dat Rusland die ooreenkoms nakom.
# Rugby: ‘n Strafdrie in die 80ste minuut het die Stormers ‘n 38-elk gelykopuitslag besorg in hul Verenigde Rugbykampioenskap‑wedstryd teen Ulster in Belfast. Die strafdrie is deur die skeidsregter, Andrea Piardi, toegeken ná ‘n duidelike hoogvat en kopkontak deur Ulster se skrumskakel, Nathan Doak, teen die Stormers-vleuel, Leolin Zas, toe hy oor die doellyn wou gaan. Die strafdrie‑beslissing beteken die Stormers het drie ligapunte gekry.
In ‘n ander wedstryd Vrydag het Glasgow vir Cardiff met 40–17 geklop en die Skotse span weer bo‑aan die punteleer geplaas. Met hul laaste ligawedstryd teen Cardiff wat nog voorlê, is die Stormers nou twee op die ranglys.
En in nog rugbynuus, die Springbok Embrose Papier sal in vanmiddag se Verengide Rugbykampioenskap-ontmoeting met die Italiaanse span Zebre Parma in Pretoria, die Bulle se mees ervare skrumskakel word. Hy deel tans die rekord van 170 wedstryde met die oorlede Bok nommer nege, Joost van der Westhuizen. Papier sal saam met Bok losskakel Handré Pollard, die wedstryd op die bank begin, terwyl Springbok Willie le Roux, en Paul de Wet die skakelpaar in die beginspan sal wees. Papier het hierdie seisoen reeds nege drieë gedruk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….