Nuus 07:00
BULLETIN 9 Mei 7 vm
Goeiemôre . Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF eis ‘n dringende tydlyn vir die Phala Phala-ampsklag
# Noodleniging en skuilingspogings duur voort regoor Tuinroete-streek ná swaar reën
# En, tennis: Sinner begin vandag in Rome met sy aanslag op sy sesde agtereenvolgende Meesters-1000-titel
# Die EFF doen ‘n beroep op die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, om dringend die proses te begin om ‘n ampsklagkomitee te skep. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof uitspraak gelewer het oor president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-saak en bevind het die Parlement se besluit van 2022 om die onafhanklike paneelverslag te blokkeer, was ongrondwetlik. Die hof het gelas die verslag moet vir verdere ondersoek verwys word. EFF-leier Julius Malema eis duidelike tydlyne en dring daarop aan dat die ampsklag nou moet voortgaan:
Die Vryheidsfront Plus verwelkom intussen die Konstitusionele Hof se uitspraak, maar is bekommerd oor die uitwerking daarvan op die skeiding van magte. Die party waarsku die uitspraak kan die parlement se interne prosesse en toekomstige ampsklagprosedures beïnvloed. Corné Mulder van die VF Plus sê die parlement moet onafhanklik en vry van onbehoorlike inmenging bly:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap sê noodleniging en skuilingspogings duur voort in die streek terwyl verskeie gemeenskappe steeds deur uiterste weerstoestande geraak word. Woordvoerder Herman Pieters sê rivier- en damvlakke in die gebied is besig om stadig te sak namate watervlakke begin daal. Hy sê die Suid-Kaapse Weerdiens voorspel nog ‘n koue front wat die Wes-Kaap na verwagting Sondag en Maandag sal bereik:
# Solidariteit se Ambagnetwerk oorweeg regstappe teen die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe en ander liggame oor die lang vertragings in die uitreiking van rooiseëlsertifikate aan jong ambagslui. Die netwerk sê die probleem duur al vir jare ten spyte van beloftes om dit op te los, met sommige aansoekers wat veel langer as die vereiste 21-dae-tydperk wag, selfs nadat hulle opleiding voltooi het en ambagstoetse geslaag het. Stef Pretorius van Solidariteit waarsku die vertragings kan loopbane en inkomste benadeel.
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, beskuldig die VSA daarvan dat hy elke keer as daar ‘n diplomatieke oplossing op die tafel is, ‘n roekelose militêre avontuur aanpak. Araghchi sê in ‘n plasing op X Iraniërs sal nooit voor druk swig nie. Dit volg ‘n dag nadat albei kante mekaar daarvan beskuldig het dat hulle aanvalle in die Seestraat van Hormoes van stapel gestuur het. Iran beheer die straat en val ook Amerikaanse bondgenote in die Golf aan as vergelding vir die Amerikaanse en Israeliese aanvalle. Sowat 20-persent van die wêreld se olie en vloeibare natuurlike gas gebruik die belangrike waterweg en die blokkasie daarvan het pryse dramaties opgejaag.
# En tennis: Jannik Sinner begin vandag sy aanslag op ‘n rekord sesde agtereenvolgende Meesters Een-duisend-titel in sy tuistoernooi, die Italiaanse Ope. Hy speel teen Sebastian Ofner in die rondte van 64. Die wêreld se nommer een het reeds die Parys Meesters, Indian Wells, Miami, Monte-Carlo en die Madrid Ope gewen om die eerste man te word wat vyf agtereenvolgende toernooie op hierdie vlak wen. Die ongekeurde Ofner, wat tans 86ste op die wêreldranglys is, het die Amerikaner Alex Michelsen in die eerste rondte geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….