Nuus 15:00
BULLETIN 8 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM vra Ramaphosa se bedanking ná die Konstitusionele Hof se beslissing
# BOSA sê die hof se uitspraak oor Phala Phala het openbare aanspreeklikheid herstel
# En tennis: Sinner sê spelers voel die organiseerders van Grand Slam-toernooie respekteer hulle nie
# African Transformation Movement sê Suid‑Afrika word gelei deur ‘n besmette president. Die Konstitusionele Hof het bevind die Parlement se stemming in 2022 oor Phala Phala was ongrondwetlik en ongeldig. ATM se parlementêre leier, Vuyo Zungula, het aan SABC News gesê dringende ampsklag-prosesse is noodsaaklik. Hy beklemtoon die saak sal wys of partye in die regering van nasionale eenheid hul by die ANC skaar of volgens hul beginsels sal optree:
Build One South Africa het die uitspraak verwelkom. Die hof het ook bevind dat die Nasionale Vergadering irrasioneel opgetree het met sy verwerping van die onafhanklike paneelverslag oor bewerings wat verband hou met die inbraak op president Cyril Ramaphosa se plaas in 2020. Roger Solomons van BOSA sê die uitspraak is ‘n oorwinning vir aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg, en dat niemand bo die wet verhewe is nie, insluitend Ramaphosa.
# Die Madlanga-kommissie het beslis die sleutel-misdaadintelligensiebeampte, Getuie H, se getuienis sal volledig agter geslote deure aangehoor word. Die publiek en media word verbied om toegang tot die klank- of video-opname van die getuienis te verkry. Die getuienis hou verband met die diefstal van 541 blokkies kokaïen uit die Valke se kantore in Port Shepstone, KwaZulu-Natal, in 2021. Die kommissie sê die geslote verrigtinge is nodig vir die beskerming van die getuie, vertroulike informante en voortgesette ondersoeke wat verband hou met beweerde misdaadsindikate en korrupsie binne die strafregstelsel.
# Die landbou-organisasie, TLU SA, sê hy het Ramaphosa en die minister van Landbou, John Steenhuisen, ingelig oor sy kommer oor die land se huidige beleidsrigting, die druk op voedselproduksie en die dringende noodsaaklikheid vir praktiese, ekonomies-verantwoordbare oplossings vir groei. Bennie van Zyl van TLU SA sê die land kan nie bekostig om voort te gaan met beleid wat beleggersvertroue ondermyn, meriete ignoreer en ekonomiese groei belemmer nie:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, sê spelers voel hulle kry nie die respek wat hulle verdien van die vier Grand Slam-toernooie se organiseerders nie. Die vroue-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, het onlangs gesê spelers sal in ‘n stadium een van die Grand Slam-toernooie boikot as hulle nie ʼn groter persentasie ontvang van die inkomste wat geskep word nie. Die Italianer sê spelers gee baie meer as wat hulle terugkry:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-29 teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-245-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-722-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….