Nuus 14:00
BULLETIN 8 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sal voldoen aan die Konstisionele Hof se uitspraak in die Phala Phala-geval
# Die DA noem die beslissing ‘n somber oomblik vir die land
# En die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir Menseregte sê Suid-Afrika se Grondwet is ‘n baken van hoop
# Die ANC gaan besin oor die Konstitusionele Hof se uitspraak wat die Parlement se ampsklag-reël ongrondwetlik verklaar. Dit hou verband met die diefstal van kontant op president Cyril Ramaphosa se plaas, Phala Phala. Woordvoerder Mahlengi Bhengu-Motsiri sê die ANC respekteer die oppergesag van die reg en sal aan die beslissing voldoen. Sy het Ramaphosa ook verdedig en gesê die party het steeds vertroue in sy leierskap, ondanks hernude oproepe vir ‘n ampsklag:
Die DA sê intussen die hoogste hof het dit duidelik gemaak die Parlement moet sy reëls regstel, en die Artikel 89-verslag oor die Phala Phala-saak moet voor ‘n ampskomitee voortgaan. Die DA beskryf die uitspraak as ‘n somber oomblik vir die Parlement, die Presidensie en grondwetlike demokrasie. Partyleier Geordin Hill-Lewis sê die DA sal doelgerig en ten volle aan die ampskomitee deelneem.
Die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir Menseregte, Volker Türk, sê intussen Suid‑Afrika se Grondwet gee deur wetgewing en demokratiese instellings gestalte aan die beginsels van die Wêreldwye Verklaring van Menseregte. Dit is vandag 30 jaar sedert die aanvaarding van die Grondwet. Türk sê dit is ‘n demokratiese prestasie van diepgaande en blywende wêreldwye betekenis:
# Gholf: Die eerste vrouekaptein in die eeue-oue geskiedenis van die Royal & Ancient‑klub in St Andrews, Skotland, neem in September die leisels oor. Claire Dowling sal vir ‘n termyn van een jaar dien nadat voormalige kapteins haar benoem het. Sy was een van die eerste vroue om by die klub aan te sluit toe lidmaatskap 12-jaar gelede vir vroue oopgestel is nadat slegs mans vir 260-jaar toegelaat is. Dowling het op die reëlingskomitee en die algemene komitee gedien nadat sy vroeër vir Groot‑Brittanje en Ierland gespeel het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-28 teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-958-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-722-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 98-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte: Die versekeraar Santam het ‘n vennootskap met die Suid-Afrikaanse Weerdiens aangegaan om nege outomatiese weerstasies in ses provinsies op te rig. Dit het ten doel om weervoorspellings en vroeë waarskuwingstelsels te versterk, omdat Suid-Afrika meer gereeld oorstromings, storms en brande ervaar wat met klimaatsverandering verband hou. Amptenare sê die nuwe stasies sal help om gemeenskappe te beskerm en ekonomiese verliese verminder. Die vennootskap ondersteun ook die Verenigde Nasies se vroeë waarskuwing-veldtog wat vir 2027 beplan word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….