Nuus 12:00
BULLETIN 8 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof bevind die Parlement het ongrondwetlik opgetree in die Phala Phala-kwessie
# Minister Creecy sê haar departement werk saam met gesondheidsamptenare om hantavirus-gevalle te monitor
# En rugby: Die Junior Bokspan is byna onveranderd vir die laaste wedstryd van die Onder-20-Kampioenskap teen Nieu-Seeland
# Die Konstitusionele Hof het bevind die Parlement se blokkering van die proses om president Cyril Ramaphosa in ‘n staat van beskuldiging te plaas oor die Phala Phala-kwessie was ongrondwetlik. Dit moet nou deur ‘n behoorlike parlementêre proses voortgaan. Meer in ons volgende bulletin.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê hulle werk saam met die Gesondheidsdepartement om moontlike hantavirus-gevalle in Suid-Afrika op te spoor en te monitor. Dit volg na die dood van drie mense wat verbind word met die hantavirus-uitbreking op die Nederlandse passasierskip, MV Hondius. Een van die passasiers het op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng inmekaargesak. Die Gesondheidsdepartement sê hulle hou vier moontlike gevalle in die Wes-Kaap dop. Creecy sê die land is gereed om hantavirus-gevalle te hanteer:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en Agri Wes-Kaap het ‘n nuwe geval van bek-en-klouseer in die Mosselbaaigebied bevestig. Dis op ‘n klein beesplaas geïdentifiseer aan die kant van die bestaande kwarantyngebied van tien-kilometer in Groot-Brakrivier. Woordvoerder Herman Pieters sê beamptes het gedurende inspeksie en inentingswerk verdagte letsels opgemerk, waarna hulle monsters geneem het. Hy sê die uitslag het ‘n positiewe geval bevestig:
Steeds in die provinsie:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik oor gure weer wat van Sondag tot Dinsdag in die Wes-Kaap sal voorkom. In dele van die provinsie het swaar reën hierdie week reeds erge oorstromings veroorsaak. Mense moes ontruim en in Knysna is ʼn vrou dood. Ramp-risikobestuur se woordvoerder, Sonica Lategan, sê die kouefronte sal ontwrigtende reën veroorsaak, terwyl stormsterk wind en skadelike golwe aan kusgebiede verwag word:
Nuus uit die buiteland:
# Indonesiese owerhede probeer 20 stappers red nadat die vulkaan Dukono op die Halmahera-eiland uitgebars het. Nege stappers is van Singapoer en die res van Indonesië. Twee buitelandse burgers en ʼn inwoner van Ternate is dood. Die land se vulkaan-agentskap sê die stappers was in ʼn gebied wat sedert 17 April vir besoekers gesluit is nadat wetenskaplikes ʼn toename in vulkaniese bedrywighede opgemerk het. Hy sê die waarskuwingsvlak op die berg is op sy derde hoogste vlak vasgestel.
# Rugby: Die Junior Springbokke se hoofafrigter, Kevin Foote, het deurlopendheid gekies vir môre se laaste wedstryd van die Onder-20-Rugbykampioenskap teen die tweemalige kampioen, Nieu-Seeland, op die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha. Die enigste verandering aan die span wat Australië verlede naweek geklop het is op die bank, waar die losvoorspeler Risima Khosa vir Gert Kemp vervang. Suid-Afrika, wat bo-aan die punteleer is met tien punte, het slegs een punt nodig om die titel die eerste keer in te palm. Afskop is twee-uur die middag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-32 teen die euro en 22-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-740-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-713-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 99-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….