Nuus 09:00
BULLETIN 8 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê klagtes oor xenofobiese aanvalle ondermyn die land se buitelandse beleid
# Die DA sê ‘n verdoemende forensiese verslag ontbloot minister Tolashe se gebrek aan aanspreeklikheid
# En die VSA en Iran skiet op mekaar in die Straat van Hormoes
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê klagtes oor vreemdelingehaat in Suid-Afrika ondermyn die land se buitelandse beleid, in besonder sy beskouiing oor menseregte. Lande insluitend Ghana, Nigerië, Mosambiek en Lesotho is bekommerd oor hul burgers wat xenofobiese geweld in die land ondervind. Lamola sê daar is geen manier waarop migrasie hanteer kan word sonder om die dryfvere in ag te neem wat hulle gedwing het om hul tuislande te verlaat om na Suid-Afrika te kom nie.
# Die DA soek antwoorde oor die koste van die forensiese ondersoek wat die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, aangevra het oor haar handtekening op die indiensnemingskontrak van die gewese direkteur-generaal, Peter Netshipale. Hy het ‘n vyfjaar-kontrak gekry nadat die Kabinet slegs ʼn eenjaar-termyn goedgekeur het. Nazley Sharif van die DA sê ʼn forensiese verslag het bevind die minister se bewering dat sy nie die kontrak se ondertekening goedgekeur het nie, beteken sy het versuim om haar statutêre verpligting na te kom:
# Die GOOD-party in Tshwane sê stappe wat die metro se veelparty-koalisieregering gedoen het, lewer goeie resultate op en bevorder groei en verandering. Tshwane werk met ‘n ten volle ondersteunde begroting met kontantvloei wat van net 17 dae verlede jaar tot 25 dae toegeneem het. Sarah Mabotsa van GOOD sê byna een-derde van die 6,67-miljard-rand wat die vorige administrasie aan Eskom geskuld het, is nou afbetaal en inwoners betaal hul munisipale rekeninge:
# Amerikaanse en Iranse magte het gister in die Straat van Hormoes op mekaar geskiet. Amerika se Sentrale Bevel sê sy magte het uit selfverdediging op lanseer-persele in Teheran gevuur nadat Iran hom sonder aanleiding aangeval het. Iran beweer Amerika het ʼn Iranse olietenkskip en nog ʼn vaartuig wat die seestraat genader het, aangeval. Teheran sê hy het in reaksie daarop Amerikaanse vaartuie aangeval en groot skade aangerig. Hy beskuldig Amerika dat hy die skietstilstand oortree, maar Amerika sê hy wil nie spanning vererger nie en die skietstilstand bly van krag.
# Krieket: Die Lucknow Super Giants wat laaste op die punteleer is, het die verdedigende kampioene, Royal Challengers Bengaluru, met nege lopies verslaan in hul Indiese Premierliga-kragmeting. Die wedstryd wat herhaaldelik deur reën onderbreek is, is tot 19 boulbeurte beperk. Mitchell Marsh het 111 van 56 balle behaal en bygedra tot die Super Giants se 209 vir drie. Daarna het Prince Yadav drie paaltjies platgetrek vir Royal Challengers se eindtelling van 203 vir ses. Die Super Giants is steeds laaste op die punteleer, maar is vol hoop in die uitklop-stryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-663-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-717-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 99-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….