Nuus 06:00
BULLETIN 8 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika sê hy gaan ‘n verslag aan die Afrika-Unie voorlê oor teen-migrantebetogings
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku dat meer hantavirus-gevalle moontlik is
# En rugby: Die Stormers, Bulle en Leeus maak gereed vir die voorlaaste ronde van die VRK
# Suid-Afrika gaan ‘n verslag aan die Afrika-Unie voorlê nadat Ghana versoek het dat betogings teen migrante tydens ‘n komende vergadering bespreek moet word. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering ondersteun die eerste land-van-veiligheid-beginsel in migrasiesake. Ntshavheni het bygevoeg daar is nie ‘n oorlog in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-streek om groot bewegings van mense na Suid-Afrika te regverdig nie:
# Business Unity South Africa sê as hoë brandstofkoste ‘n volgehoue kenmerk van die bedryfsomgewing word, sal die gevolge kleiner beleggings, minder werksgeleenthede en stadiger groei wees. Globale oliemark-wisselvalligheid het gelei tot beduidende stygings in brandstofpryse in April en Mei. BUSA sê met ongeveer 80-persent van goedere in die land wat per pad vervoer word, sal verhoogde brandstofkoste verspreidings- en logistieke uitgawes in die ekonomie verhoog. Hy waarsku maatskappye gaan gedwing word tot onmoontlike keuses tussen die dekking van stygende brandstofkoste en die nakoming van salaris- of verskaffersverpligtinge.
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit sê die fokus is op die opspoor van vasgekeerde of ontheemde mense, aangesien weerwaarskuwings vir die streek van vlak agt na vlak ses afgegradeer is. Daar bestaan kommer oor die Knysna-, Bitou-, George- en Oudtshoorn-gebiede. Volgens die munisipaliteit se brandweerhoof, Deon Stoffels, is ongeveer 76 mense in De Vlugt in die George munisipale gebied gestrand:
# Die Vryheidsfront Plus het kommer uitgespreek oor die Stad Tshwane se versoek om ‘n verdere 1,5-miljard-rand in debiteure as ongemagtigde uitgawes af te skryf. Die afgelope 12 maande het die metro byna ses-miljard-rand van sy skuldlas as fiktief of onherwinbaar verklaar. Die VF Plus sê as rekeningkundige truuks gebruik moet word om miljarde uit die finansiële state te verwyder in ‘n poging om die boeke te balanseer, beteken dit dat die begroting nooit werklik befonds is nie. Hy sê dit kom neerop growwe manipulasie van die begrotingsproses.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê meer hantavirusgevalle wat verband hou met die uitbreking op die luukse passasierskip in die Atlantiese Oseaan, kan steeds opduik as gevolg van die virus se lang inkubasietyd van tot ses weke. Die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Adhanom Ghebreyesus, het aan die media gesê voortgesette monitering en kontakopsporing is in verskeie lande in plek, met passasiers en noue kontakte wat steeds dopgehou word vir moontlike simptome:
# Rugby: Die Stormers, die Leeus en die Bulle het hierdie naweek belangrike oorwinnings nodig in die voorlaaste groepwedstryde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die drie Suid-Afrikaanse spanne is steeds in die wedloop om tuiswedstryde in die kwarteindronde te behaal wanneer die uitspeelwedstryde begin. Die Stormers, die voorlopers op die punteleer, speel vanaand in Belfast teen Ulster wat in die agste posisie is. Die sewende geplaaste Bulle pak Zebre môre in Pretoria, en die derde geplaaste Leeus speel teen die vierde geplaaste Leinster in Dublin. Die Haaie, wat nou tiende op die punteleer is, speel in Durban teen die 13de geplaaste Benetton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-854-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-687-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 101-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….