Nuus 16:00
BULLETIN 7 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inwoners van die Gamtoosvallei word gevra om te ontruim nadat die Kougadam oorloop
# Die NCC-leier Fadiel Adams is amptelik aangekla en bly in aanhouding tot sy borgtogaansoek
# En sokker: Suid-Afrika wil 2028 se Afrikabekertoernooi saam met vyf ander Suider-Afrikalande aanbied
# Inwoners van die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap is gevra om te ontruim nadat die Kougadam oorgeloop en 113-persent bereik het. Mense in Kingsway Village, Big Fish, Gamtoosmond-oord, Ferry Hotel en ander laagliggende gebiede is gevra om na veiliger gebiede te beweeg. Kouga se burgemeester, Hattingh Bornman, het boere ook versoek om hul vee en toerusting na veiligheid te verskuif:
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, is aangekla van bedrog en regsverydeling in die Landdroshof in Pinetown, KwaZulu-Natal. Dit hou verband met beweerde inmenging in die ondersoek na die moord op die voormalige leier van die ANC-Jeugliga, Sindiso Magaqa, in 2017. Adams bly in ‘n onbekende plek voor sy borgtogaansoek Woensdag. Sy regsverteenwoordiger, Bruce Hendricks, voer aan hy is nie ‘n vlug-risiko nie.
# Die DA het George Michalakis tot sy nuwe parlementêre leier verkies. Die voormalige hoofsweep is verkies bo mededingers Andrew Whitfield en Kevin Mileham. Die party sê Michalakis sal fokus op wetgewende strategie en die handhawing van koukus-dissipline, veral aangesien die federale leier, Geordin Hill-Lewis, nie ‘n parlementslid is nie. Die DA sal nou ‘n nuwe hoofsweep aanstel. Michalakis sê hy is gereed om aanspreeklikheid te versterk en die party se doelwit te bevorder om Suid-Afrika vir almal te laat werk.
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die voortslepende brandstof-prysstygings dryf die koste van vervoer en noodsaaklike goedere vinnig hemelhoog en plaas druk op huishoudings se inkomste. Lae-inkomste-huishoudings bestee tussen 40- en 50-persent van hul inkomste aan vervoer, wat ver bo die beleidskerf van tien-persent is. Die vakbond se woordvoerder, Claude Naicker, sê dringende verligtingsmaatreëls is nodig om die uitwerking van die stygende brandstofpryse te beperk:
# Sokker: Suid-Afrika en vyf ander Suider-Afrikalande beplan ‘n gesamentlike bod om die Afrikabekertoernooi in 2028 aan te bied. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê Suid-Afrika wil Lesotho, Namibië, Botswana, Zimbabwe en Mosambiek betrek. Volgende jaar se toernooi sal in Kenia, Uganda en Tanzanië gehou word, terwyl Suid-Afrika dit voorheen in 1996 en 2013 aangebied het. McKenzie sê die fyner besonderhede van die gesamentlike bod sal tydens ‘n vergadering op die 17de van hierdie maand bespreek word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-11 teen die euro en 22-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-43-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-737-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 95-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….