Nuus 14:00
BULLETIN 7 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Afgetrede Valke-offisier getuig oor Senota se opdrag vir geheimhouding oor die berging van dwelms
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake sê sy ontmoeting met pous Leo is nie om die spanning te verlig nie
# En sokker: Fed Square in Melbourne wys nie vanjaar Wêreldbekerwedstryde op die grootskerm nie
# ‘n Afgetrede offisier van die Valke, Jakobus Prinsloo, het aan die Madlanga-kommissie gesê die geskorste hoof van die KwaZulu-Natalse Valke, Lesetja Senona, het geheimhouding gelas rondom ‘n dwelmbesending wat in sy kantoor geberg is. Hy het op vrae van kommissaris Sandile Khumalo geantwoord dat kommer oor sekerheidsmaatreëls geopper is na ‘n inbraak. Hy erken dat geen bykomende maatreëls ingestel is nie, ondanks vrese dat die bergingsgebied onveilig was:
# Die vakverbond Saftu is verontwaardig oor die jongste brandstofprys-styging wat miljoene werkers en arm huishoudings in ‘n groter krisis dompel. Petrolpryse het gister met drie-rand-27-sent per liter gestyg en diesel met vyf-rand-27-sent. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê die regering moet die algemene brandstofheffing op petrol en diesel afskaf en ʼn tydelike ingryping instel om brandstofpryse te bestendig en werkers te beskerm teen wisselvalligheid in internasionale oliepryse:
# Die DA in Gauteng verwelkom die vordering wat gemaak is met die verwydering van kankerbiopsie-agterstande in die Charlotte Maxeke Hospitaal. Die DA-lid, Jack Bloom, sê privaat laboratoriums het duisende monsters verwerk en ander staatslaboratoriums het ook hul ondersteuning gebied nadat pasiënte maande lank gewag het vir dringende uitslae. Hy waarsku personeeltekorte bly ‘n uitdaging, maar sê nuwe opleiding en digitale patologie verbeter kankerdiagnose en behandelings-omkeertye.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, ontken vandag se ontmoeting met pous Leo is ‘n poging om diplomatieke betrekkinge met die Vatikaan te herstel. Verhoudings tussen die pous en president Donald Trump het versleg, met Trump wat Leo as swak en verskriklik bestempel het. Die eerste Amerikaanse pous in die geskiedenis is krities oor die Amerikaans-Israelse oorlog teen Iran. Rubio sê dis normaal dat Amerika met die Vatikaan skakel:
# Sokker: Fed Square in Melbourne, Australië, sal intussen nie in ‘n toeskouersentrum vir vanjaar se Wêreldbeker omskep word nie weens swak toeskouergedrag in die verlede. Dit sal die eerste keer in meer as 20 jaar wees dat geen wedstryde op die grootskerm gewys word nie. Die wilde feesvieringe toe Australië in 2022 vir die ronde van 16 in Katar gekwalifiseer het, het tot beserings gelei. Die owerhede sê die besluit was te wyte aan die gedrag van ‘n klein minderheid, en die plaaslike beheerliggaam het gevra dit moet heroorweeg word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-18 teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-865-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-730-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….