Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na motorsport: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê Suid-Afrika sal seker maak alles is gereed voor ‘n bod ingedien word om ‘n Formule Een‑Grand Prix aan te bied. ‘n Kenner sal daarom aangestel word om die bod te evalueer. McKenzie het bevestig privaat sektor-vennootskappe het die vereiste gasheerfooi van 1,7-miljard-rand verseker. Hy sê die bod sluit die sakemodel, gasheer- en byeenkoms-bestuur, infrastruktuur, logistiek en regeringsgoedkeuring in. Suid-Afrika het in 1993 laas ‘n F1‑wedren aangebied.
# Rugby: Die Leeus sê hulle is in Dublin om Saterdag die Ierse kragreus, Leinster, in hul Verenigde Rugbykampioenskap-groepwedstryd te klop, al word hulle as die buiteperd beskou. Die Johannesburgse span, wat hulle laaste ses wedstryde gewen het, is tans derde op die punteleer en benodig slegs een ligapunt om vir die heel eerste keer vir die kwarteindronde te kwalifiseer. Die verdedigingsafrigter, Jaque Fourie sê die spelers is gefokus, wetende dat dit moeilik is om in Ierland te toer en teen een van die oudste klubs ter wêreld te speel.
# Krieket: Die eindstryd van die Indiese Premierliga sal nie meer die einde van die maand in Bengaluru gespeel word nie. Die wedstryd is weens bedryfs- en logistieke probleme na Ahmedabad verskuif. Royal Challengers Bengaluru se oorwinningsvieringe het verlede jaar tot die dood van 11 mense gelei tydens ‘n stormloop buite die Chinnaswamy-stadion, waarna die plaaslike regering veiligheidsreëlings hersien het voordat hulle IPL-wedstryde hierdie seisoen daar toegelaat het. Die beheerliggaam, BCCI, sê hulle kon nie aan al die vereistes voldoen nie en is gedwing om die eindstryd te verskuif.
# Sokker: Die mede-gasheer, Mexiko, se beheerliggaam het spelers gedreig dat hulle uit die Wêreldbeker-groep gelaat sal word as hulle nie vir ‘n oefenkamp aanmeld nie en kies om eerder by hul klubs te bly. Die kamp, wat gister begin het, val buite die aangewese internasionale gleuf en bots met Liga MX-uitspeelwedstryde. Spelers is ‘n sperdatum van agtuur vanaand gegee om by die kamp in Mexikostad aan te meld. Mexiko sal sy Wêreldbeker-groep op 1 Junie aankondig, met hul eerste wedstryd teen Bafana Bafana die 11de.
Fed Square in Melbourne, Australië, sal intussen nie in ‘n toeskouersentrum vir vanjaar se Wêreldbeker omskep word nie weens swak toeskouergedrag in die verlede. Dit sal die eerste keer in meer as 20 jaar wees dat geen wedstryde op die grootskerm gewys sal word nie. Die wilde feesvieringe toe Australië in 2022 vir die ronde van 16 in Katar gekwalifiseer het, het tot beserings gelei. Die owerhede sê die besluit was te wyte aan die gedrag van ‘n klein minderheid, en die plaaslike beheerliggaam het gevra dit moet heroorweeg word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….