Nuus 11:00
BULLETIN 7 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die WGO spoor passasiers na na ‘n vlug van Sint Helena na Johannesburg weens kommer oor die hantavirus
# Sokker: Die Premierliga-titelstryd is wyd oop met Sundowns se gelykopstryd teen Chiefs
# En onweer veroorsaak chaos in die Tuinroete-distrik
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming monitor 82 passasiers en ses bemanningslede wat op 25 April op ‘n Airlink-vlug van die eiland Sint Helena na Johannesburg gereis het. Dit volg nadat ʼn 69-jarige Nederlandse vrou wat ʼn passasier op die vlug was, kort na haar aankoms aan die hantavirus dood is. Sy was een van ʼn groter groep passasiers van die passassierskip MV Hondius. Die WGO sê hulle hou die passasiers dop omdat hulle eerder oorversigtig is.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling sê die Spesiale Ondersoekeenheid se befondsingsmodel beperk die eenheid se werksmag en vermoë om sy mandaat doeltreffend uit te voer. Die eenheid se toegekende befondsing van meer as 487-miljoen-rand vir 2026/27 is aansienlik minder as sy bedryfsvereistes. Die verhouding tussen toelaag-inkomste en totale begrotingskoste neem af, van sowat 50- tot onder 40-persent. Die komitee sê die eenheid reageer op die president se proklamasies, maar moet sy koste herwin van die einste instellings wat hy ondersoek.
# Cosatu in Johannesburg veroordeel die minister van Finansies, Enoch Godongwane, se onwilligheid om die betalingsraamwerk-ooreenkoms vir munisipale werkers in te stel. Hy dreig om die metro se toelaagbefondsing te weerhou as die stad nie sy finansiële sake in orde kry nie. Hy eis ook ʼn verduideliking oor hoe die metro die tweejaar-salarisooreenkoms van 10,3-miljard-rand gaan befonds wat hy met die vakbond Samwu onderteken het. Cosatu se woordvoerder, Lyndsay Hughes, sê dis ʼn regstreekse aanval op werkers se voortbestaan:
# Sokker: Die verdedigende kampioen, Mamelodi Sundowns, het sy kans verbeur om sy voorsprong boaan die Premierliga-punte te vergroot na ‘n gelykopstryd teen Kaizer Chiefs op Loftus Versfeld. Flavio Silva het Amakhosi laat voorloop en Bryan Leon het die telling gelykop gemaak. Die Brasiliane is nou net drie punte voor Orlando Pirates, wat een wedstryd minder gespeel en ‘n beter doelverskil het. Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, is gefrustreerd met sommige beslissings:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-468-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-748-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-90-sent per vat.
# En ten slotte: Swaar reën en oorstromings het groot skade aangerig in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap. Meer as 200-millimeter reën is in die Bitou-munisipaliteit gemeet, insluitend 197-millimeter in Knysna. ‘n Sewe-en-dertigjarige vrou is in die dorp dood toe ‘n boom op haar motor geval het. Woordvoerder Herman Peters vra motoriste om hulle reise so ver moontlik te beperk, want verskeie paaie is oorstroom, baie glad of ontoeganklik, insluitend Meiringspoort en die Swartbergpas:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….