Nuus 17:00
BULLETIN 6 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hendrik Flynn van die Valke beskryf die forensiese versoekproses in dwelmklopjagte aan die Madlanga-kommissie
# ‘n Sskaars Andes-stam van die hantavirus het ‘n Nederlandse egpaar se dood veroorsaak
# En, ‘n vrou sterf toe ‘n boom op haar motor val gedurende stormweer in Knysna
# Die hoof van die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaadondersoeke, Hendrik Flynn, het aan die Madlanga-kommissie gesê daar is meganismes om forensiese ontleding te prioritiseer. In reaksie op ‘n ondersoek na die verdwyning van kokaïen ter waarde van ongeveer 200-miljoen-rand uit ‘n Valke-fasiliteit in Port Shepstone in 2021, het Flynn gesê daar is geen streng vereiste vir skriftelike versoeke aan die Forensiese Wetenskaplaboratorium nie, hoewel dit verkieslik is. Hy het beklemtoon grootmaat dwelmbeslagleggings moet as dringende ondersoeke behandel word:
# Twee Nederlanders wat weens die hantavirus dood is, het vermoedelik die skaars Andes-stam opgedoen. Die man is ter see dood en sy vrou het verlede naweek in ‘n Gautengse hospitaal gesterf. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het aan die parlementêre portefeuljekomitee gesê die Andes is die enigste van 38 bekende stamme wat vermoedelik tussen mense kan versprei, hoewel dit net deur baie naby kontak gebeur. Hy sê die virus is baie minder oordraagbaar as Covid-19. Die egpaar was passassiers op die plesierboot MV Hondius met 147 mense aan boord.
Die African Peoples Convention het intussen kommer uitgespreek oor die Hantavirus nadat ‘n pasiënt aan boord van die passasierskip MV Hondius, na ‘n Johannesburgse hospitaal genoodsaak het. Drie passasiers wat aan boord van die boot was, is oorlede. APC se woordvoerder, Lucas Mphaka, sê die Departement van Gesondheid moet verseker dat die Hantavirus nie in die land versprei nie:
# Rampbestuur in die Tuinroete in die Wes-Kaap het bevestig dat ‘n 37-jarige vrou dood is toe ‘n boom op ‘n geparkeerde motor in Knysna geval het. Die polisie sê haar liggaam is uit die motor gehaal en ‘n gedeelte van die pad is gesluit vir opruiming. Die hoof van Rampbestuur, Gerhard Otto, het mense gewaarsku om nie onder groot bome te parkeer nie, aangesien die sterk wind gevaarlik is. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeër ‘n Oranje Vlak Agt-waarskuwing vir die Tuinroete uitgereik.
# Tennis: Die Beroepspelers-vereniging waarsku die sport sal in geskille gewikkel bly as daar nie hervormings is nie. Voorste spelers eis ‘n groter pryspot in die Franse Open wat later die maand in Parys begin. Die wêreld se beste vroue-speler, Aryna Sabalenka van Belarus, het selfs geskimp op die moontlikheid van ‘n boikot van die toernooi, waar die prysgeld beduidend minder is as dié van ander Grand Slam-toernooie. Die vereniging sê die onenigheid wys presies waarom hy die manier uitdaag waarop tennis beheer word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-101-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-679-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 102-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….