Nuus 15:00
BULLETIN 6 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag op die Lebombo-grenspos te midde van dreigemente
# NEHAWU vra ‘n breë progressiewe front om die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering te verdedig
# En sokker: FIFA se president verdedig die Wêreldbeker-kaartjiepryse
# Polisie en immigrasiebeamptes is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag op die Lebombo-grenspos in Mpumalanga weens dreigemente van versetoptrede aan die Mosambiekse kant. Grensowerhede hou die situasie noukeurig dop om veiligheid te verseker en ontwrigting van oorgrensbeweging te voorkom. Veiligheid is versterk in afwagting van moontlike onrus, hoewel geen voorvalle nog aangemeld is nie. Amptenare sê dit is voorsorgmaatreëls om orde te handhaaf en reisigers en personeel te beskerm.
# Die vakbond Nehawu sê hy veroordeel pogings deur ‘n sogenaamde grootgeld-koalisie en regse elemente wat volgens hom probeer om die volle instelling van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering te vertraag en te keer. Die Konstitusionele Hof hoor ʼn saak aan wat die Raad van Gesondheidsorgbefondsers aanhangig gemaak het, en wat moet bepaal of die Parlement sy grondwetlike verpligting nagekom het wat openbare deelname betref. Nehawu se woordvoerder, Lwazi Nkolonzi, sê hulle sal seker maak universele gesondheidsorg word aanvaar:
# Eskom sê munisipale skuld staan tans op 111,6-miljard-rand, ondanks die Nasionale Tesourie se skuldverligtingsplan vir munisipaliteite. Nege munisipaliteite het raadsbesluite aanvaar om die Verspreidingsagentskap-ooreenkoms te onderteken ná ʼn beraadslagingsproses met die kragverskaffer. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die munisipaliteite het minstens 18 maande laas hul rekeninge betaal, en nie die voorwaardes van die skuldverligtingsprogram nagekom nie:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, maan die publiek om nou meer as ooit op hulle hoede te wees met erge weerwaarskuwings wat deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik is. Inwoners in dele van die Wes-, die Oos en die Noord-Kaap ervaar reeds koue, nat en winderige toestande. Die departement se woordvoerder, Pearl Maseko-Binqose, sê hulle monitor die ontwikkelende weersituasie noukeurig in samewerking met al die rampbestuurstrukture:
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, het Wêreldbeker-kaartjiepryse verdedig en gesê dit weerspieël die vraag om wedstryde in Amerika, Kanada en Mexiko by te woon. Hy sê hulle is verplig om voordeel te trek uit Amerikaanse wette wat toelaat dat kaartjies vir duisende dollar bo die sigwaarde herverkoop mag word. Infantino sê FIFA het meer as 500-miljoen kaartjieversoeke ontvang, vergeleke met ongeveer 50-miljoen vir die vorige twee toernooie saam. Hy sê 25-persent van die kaartjies vir die groepfase kos sowat vierduisend-900-rand elk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-641-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-711-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….